Slagting by die Butte de Warlencourt (1)

Deur Reinderd Visser

Deur Reinderd Visser

Slagting by die Butte de Warlencourt (1)

12 – 18  Oktober 1916

Deur Reinderd Visser
As ek terugdink aan die oorlogsverhale wat ek al gedeel het, onthou ek nog goed waar die saadjie vir die vertel      hier­van geplant is.

Dit was by die graf van ’n onbekende Suid-Afrikaanse soldaat in ’n militêre begraafplaas in België. Ek moes hom onwillekeurig vra: Wie was jy? Wat was die omstandighede waaronder jy ge­sneuwel het? En was die prys wat jy betaal het die moeite werd?

Ek het intussen so met my leeswerk ’n effense beeld ontwikkel van hoe die oorlog regtig gelyk het, en dit is nie ’n mooi prentjie nie.

Een van die dinge wat my van die oorlog opgeval het, is hoe vervangbaar ’n soldaat was! Voor die aanvang van ’n veldslag is getel hoeveel manne die geveg betree. Aan die einde van die kontak met die vyand is daar dan weer koppe getel, hierdie keer om te bepaal hoeveel oor is. En die gewondes en ge­sneuweldes is onmiddellik met nuwe troepe vervang! Dit was ’n proses wat homself oor en oor en van veldslag tot veldslag herhaal het.

Neem byvoorbeeld die heel eerste veldslag in Europa waarby die Suid-Afrikaanse Brigade betrokke was, die slag van Delvillebos in Julie 1916.

3 153 soldate is die woud ingestuur en na vyf dae se woeste gevegte was meer as tweederdes van hulle buite aksie gestel (dood, gewond of krygsgevangene). Hulle is binne dae met vars troepe vervang, gereed vir die volgende veldslag. Toevallig is dit ook die veldslag waarvan ek die keer vertel, by ’n piepklein heuwel, of Butte in Frans, naby die dorp Warlencourt in Frankryk.

En ons gaan weer moet koppe tel.

Voordat ek daarby kom, wil ek net ’n tweede ding van hierdie oorlog noem wat vir my uitstaan, en dit is die weer.

Ek kan aan weinig rubrieke dink waar ek ’n veldslag beskryf het en waarin die weer nie ook ’n enorme rol gespeel het nie! Trouens, ek dink dat die uitslag van baie van die veldslae heeltemal anders sou gewees het as dit nie sou gereën of gesneeu het of mistig was nie. Veral die reën het sake uiters moeilik gemaak, want daarmee saam het die oorstroming van loopgrawe en diep modder gekom. Haglike omstandighede om die minste daarvan te sê!  En glo dit as jy wil, die gevegte by die Butte was weer ’n reënerige en modderige affêre, in oortreffende maat.

Die Butte de Warlencourt was een van daardie oorskatte teikens wat stra­te­gies waarskynlik min waarde sou toe­-voeg, maar wat uiteindelik vele on­no­­di- ge lewens sou eis. Dié mensgemaak­te tumulus of grafheuwel met ’n deursnee van 45 meter en wat sowat 20 meter hoog is, dateer uit die Ro­meinse tyd en was in 1916 in Duitse hande. Die gealli­eerde generaals het vas geglo dat dit ter wille van die uitsig wat dit bied ’n be­langrike hoogte was om te besit, en het beveel dat dit verower móés word.

Oor ’n periode van drie maande is daar ten minste ses keer probeer om dit  te doen, maar elke keer sonder sukses.
Die Springboks sou tussen 12 en 18 Oktober 1916 by twee van daardie ses probeerslae betrokke wees … en hulle sou nie eens naby kom nie!

Die brigade was op 9 Oktober sowat een kilometer van die heuwel af ingegrawe en gereed vir aksie. Hul eerste poging om die Butte te verower was op die 12de, maar eers moes hulle by die Duitse loopgrawe, ongeveer halfpad na die heuwel toe, verbykom. Dit het die oggend liggies begin reën en, erger nog, ’n digte misbank het oor die gebied getrek. Die aanval het halfdrie die middag begin, maar die mis en ’n rookskerm wat in hul rigting gewaai het, het hulle verblind en hulle het moeite ondervind om hul teikens te kry. Daar was egter ’n dodeliker probleem – die lang, ega­lige helling waarteen hulle moes opbeweeg, was ideaal vir strategies ge­- plaas­te masjiengewere om oorkruis te vuur en hulle is in groot getalle afgemaai. Die aanval is sommer vroeg in sy spore gestuit en hulle moes, met baie gewond en dood, terugval, sonder om selfs hul eerste teikens te bereik, wat nog te sê die Butte self!

Die volgende paar dae is gebruik vir voorbereiding vir die volgende aanslag. Die eerste regiment was die nag van die 16/17 Oktober besig met herstelwerk aan loopgrawe naby die front toe die 33-jarige sers James Parker van Oudts­hoorn gesneuwel het. Hy is waarskynlik deur skrapnel getref tydens ’n bom­- bardement van die vyand. Sy naam staan op ’n bronsplaat in die Angli­kaan­se Kerk in Oudtshoorn.

Hy was die eerste van vier slagoffers uit die Oudtshoorn-omgewing wat hier gesterf het. Meer oor die ander en die res van die slag volgende maand.

Die skrywer van dié baanbrekersreeks oor die Eerste Wêreldoorlog en die rol van inwoners van die Klein Karoo daarin, Reinderd Visser van Oudts­hoorn, by ’n  gedenkteken bo-op die Butte de Warlencourt waaroor hy vandeesmaand en volgende maandskryf. Visser het aanvanklik geglo die rubriekreeks, wat in 2014 afgeskop het, sal net enkele aflewerings lank wees, maar vier jaar later loop hy met sy navorsing hier en in Europa steeds inspirerende en nuwe relevante inligting vir nog rubrieke raak!

Die skrywer van dié baanbrekersreeks oor die Eerste Wêreldoorlog en die rol van inwoners van die Klein Karoo daarin, Reinderd Visser van Oudts­hoorn, by ’n gedenkteken bo-op die Butte de Warlencourt waaroor hy vandeesmaand en volgende maandskryf. Visser het aanvanklik geglo die rubriekreeks, wat in 2014 afgeskop het, sal net enkele aflewerings lank wees, maar vier jaar later loop hy met sy navorsing hier en in Europa steeds inspirerende en nuwe relevante inligting vir nog rubrieke raak!

Log in with your credentials

Forgot your details?