Jy kan gewig verloor – maar dis ’n mite dat jy kan kies waar…

deur Mia le Roux

Deur Mia le Roux

DIE konsep dat jy gewig net op ’n sekere deel van jou lyf kan verloor deur sekere tegnieke te volg, is ’n mite.

Deur die jare is en word steeds miljoene rande deur desperate mense gespandeer op ongetoetse oefenprogramme en metodes wat beweer hulle kan jou help om gewig op net ’n sekere probleemplek te laat verloor, soos jou maag, of jou heupe, of jou bobene.

Die geloofwaardigheid van wat beter bekend is as die Engelse “spot reducing” – ’n prosedure waar vet aan sekere dele van jou lyf verminder deur die spiere in daardie spesifieke gebied te oefen – is reeds deur talle studies as onwaar bewys.

Net twee voorbeelde.
Een so ’n studie het die arms van toptennisspe­lers en die arms van onatletiese persone vergelyk. Die velvoudikte by die mans het getoon dat die vetpersentasie van die atletiese en nie-atletiese arm dieselfde was, al het die toptennispelers baie meer geoefen en was die omtrek van hul arms groter as gevolg van meer ontwikkelde spiere.

Nog ’n studie gedoen by die Universiteit van Massachusetts het 13 mans op ’n intense oefenprogram van 27 dae geplaas. Die program het die maagspiere geteiken. Die vetlae van die boude, maag en bo-rug van die mans is voor die oefenprogram en ook daarna gemeet.

Die studie het getoon dat die hoeveelheid vet in al die areas van al 13 mans teen dieselfde tempo verminder het.

Dus: As genoeg kalorieë deur die oefenprogram verbrand word, sal die vetpersentasie van die hele liggaam verminder – insluitend die maagarea – wat tot die wanopvatting kan lei dat “spot reduction” werk.

Nog iets om te ont­hou. Ten spyte daarvan dat die vetpersentasie van die hele liggaam verminder of toeneem, is die laaste dele van jou liggaam wat vet verloor, juis daardie dele wat eerste vet aangesit het.
Om saam te vat: Oefeninge om vet net op ’n sekere deel van jou liggaam te verwyder – soos opsitte om maagvet te verloor – sal nie werk nie. Jy kan nie so van vet ontslae raak nie. Jou vetverspreiding oor jou ligaam is geneties en jy kan oraloor vet verloor deur oefeninge te doen wat kalorieë verbrand, en natuurlik minder kalorieë deur jou kos in te neem.

Die antwoord dus – vir almal van agt tot tagtig – is om te beweeg. Gaan stap gereeld of draf as jy sterker is, begin dans (al is dit in die huis of saam met vriendinne), speel tennis of muurbal, sluit aan by ’n gimnasium.

Neem net die stap om van die bank af op te staan!
En neem gerus ’n besliste besluit om oormatige suiker en onnodige soetgoed uit te sluit. Jy sal nie jammer wees nie.

Een van die mees genesende dinge wat mens vir jouself kan doen, is om te besef jy is soms self die “gif” in jou lewe. As jy ’n lae selfbeeld en negatiewe liggaamsbeeld het, is dit iets wat jy kan omswaai.
Ek is ’n voorstaander van selfliefde. Ons oefen dikwels met die doel om mooier te word op grond van wat daarbuite as mooi beskou word, maar die uiteindelike doel van oefening moet wees om gesonder te word. Hou op fokus op die uiterlike en fokus op die binnekant. Ons lewenspad is lank. En ons moet elkeen werk aan ons eie genesing.

• Mia le Roux is ’n persoonlike afrigter.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?