It’s just a jump to the left…

Deur Johan Strasheim

Deur Johan Strasheim

Vlieg is baie veilig. Selfs in ligte vliegtuie. Die vlugte via Beira na die jag­kamp in die Zambezi Delta van Mo­sam­biek was oor die algemeen roetine besigheid en die lugverkeerbeheeramp­tenare in Beira eintlik baie goed as jy in ag neem dat hulle sonder gesofistikeer­de radar en ander moderne hulpmiddels oor die weg moes kom en steeds vliegtuie uitmekaar hou in hulle lugruim.

Dié dag een Juliemaand is ek met met twee omies van Texas – Jerry en Larry – op pad Mosambiek toe om te gaan jag. Die weer was maar lastig en regtig nie van die beste nie. Dit is in die middel van die winter en dit is bewolk oor die groot Oos-Afrikaanse kusvlakte en dan neuk dit soms maar. Nou ja, die skedu­le is die skedule en ’n bietjie slegte weer gaan jou nou nie enige slaap laat verloor nie.

Die besoekers romantiseer die vaar­dighede en maniere van die “Bush pilots” so bietjie en dit maak hulle stories terug by die huis lekker om te vertel. Nou ja, ons speel maar saam, maar hou altyd veiligheid eerste. Kom ons sê maar ons kom met minder fasiliteite klaar as waaraan hulle gewoond is.

In die daling na Beira Lughawe is ek aangesê om die ILS 12-prosedure te vlieg – met ander woorde ’n instrument­nadering tot op so 100 voet bo die grond of as ek die aanloopbaan sien, wat ook al eerste ge­beur. Alles loop mooi en die gepubliseerde prosedure word slaafs gevolg. Dis hoe dit werk. Dit is die orde en dissipline wat dit veilig maak.

Op eindnadering aanloopbaan toe is ons steeds in die wolke met ligte reën en hoor ek ’n gesprek op die radio, natuurlik die helfte in Portugees. Daar is ’n vliegtuig wat wil vertrek wat met die beheertoring praat.

Toring: “Departing traffic Hotel Kilo Yankee, proceed with taxiway Alpha for the holding point runway 12. ATC when ready.” Hulle moet kort van die aanloopbaan stilhou en sal dan verdere instruksies ontvang wanneer hulle ge­reed is. Roetine instruksie.

Die bemanning in die vliegtuig moet die instruksie teruglees. Ook roetine. Ek hoor die loods: “Ok, Hotel Kilo Yankee taxi Alpha for 12 to line up and wait.” Kripties … maar verkeerd!

Ek sien sommer hier kom moeilik­heid. Die bemanning in die vliegtuig wat vertrek, gee nie aandag nie, weet nie ek is op pad aanloopbaan toe nie, moet nie op die aanloopbaan gaan stilhou nie – en die toring het dit skynbaar gemis. Hulle gaan voor ons inry op die aanloopbaan.

Terwyl ek nog dink om krag te gee en verby te gaan, breek ons op so 70 m bo die grond uit die wolke uit met die intense helder aanloopbaanligte wat wel­kom voor ons uitstrek. Maar … in plaas van die groot oop blinknat aanloopbaan, is daar ’n vliegtuig wat op die punt daarvan van regs af opdraai, en basies gereed maak om op te styg.

Jy het oomblikke om te besluit wat om te doen.

Al wat ek uitkry op die radio is: “Departing traffic, hold your position, do not move! I say again, do not move. Inbound traffic on short finals behind you. Do not move!”

Alles gebeur bitter vinnig.

Die Aerostar is reeds in sy eindna­de­-ringskonfigurasie met landings­ligte aan, klappe en wiele reeds uit. Ou Jerry langs my skrik hom simpel en al wat ek hoor is, “Oh sh*t!”, toe hy die vliegtuig gewaar deur ons nat voorruit.

Al wat ek kon uitkry was: “Hang on, we’ll just swing right by and pass him on his left.”

Hou kop, gee bietjie krag en swaai die Aerostar met ’n sierlike boog na links en weer na regs om mooi voor die vliegtuig op die aanloopbaan te land – ons het basies om die vliegtuig gevlieg en sodoende ’n ernstige ongeluk vrygespring.

Gelukkig is die sigbaar­heid onder die wolke uitstekend en die aanloopbaan baie breed en baie lank.
Ons het uiteindelik geparkeer op die laaiblad en ek sien die vertrekkende vliegtuig staan steeds op dieselfde plek op die aanloopbaan. Ek spring uit om die nodige formaliteite te gaan afhandel in die hoofgebou terwyl daar ’n baie hewige bekgeveg op die radio – alles in Portugees natuurlik – losgebars het.

Die man in die beheertoring was ernstig ontsteld en met reg so. Dinge kon sleg skeefgeloop het.
Net voordat ek wegspring met ’n handvol paspoorte en permitte om die burokrasie aan te vat sodat ons kan vertrek kamp toe, kyk ek by die deur in en vra: “Anything I can getcha while I’m in the terminal building, Jerry?”

Hy kyk my grootoog aan asof hy ’n spook gesien het en antwoord: “How about some clean underpants, Johan!”

Nou ja, alles in ’n dag se werk!

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?