John Thomas Bain van O’hoorn

Deur Reinderd Visser

Deur Reinderd Visser

Die Klein Karoo was vanaf die middel 1800’s sinoniem met die suksesvolle volstruisverebedryf. Juis daarom het die belofte van kitsrykdom al meer immigrante na hierdie streek gelok.

Ek het in ’n vorige artikel genoem dat die dorp vroeg in die vorige eeu as Klein Jerusalem bekend gestaan het vanweë die groot Joodse gemeenskap hier, waarvan meeste uit Litaue na hier geïmmigreer het. Net so het heelwat Skotte ook hier beland.

Ek dink byvoorbeeld aan die professionele klipkappers wat kom help bou het aan die pragtige huise, kerke en ander sandsteengeboue in en om Oudts­-hoorn. Party het teruggegaan Skotland toe, maar ander het gekies om hier te bly. Cooper is byvoorbeeld een van die Skotse vanne wat jy vandag nog in die dorp sal raakloop.

So het nog ’n Skot, John Thomas Bain, besluit om in die laat 1800’s ook na die Klein Karoo te verhuis.

Hy was ’n kleremaker van beroep en het hom met sy gesin op Oudtshoorn gevestig en ’n klerewinkel op die dorp geopen. John het agt kinders gehad en hierdie artikel gaan eintlik oor sy oudste seun en naamgenoot.

Sover ek kon vasstel, was die Bain-gesin nie direkte familie van die be­-kende Skotse padbouer Thomas Bain nie. Die pragtige Swartbergpas is een van sy nalatenskappe.

As my afleidings reg is, het John Senior in ’n stadium tydens die Anglo- Boereoorlog sy winkel tydelik gesluit en by die Oudtshoorn Volunteer Rifles aangesluit. Hier het hy die rang van luitenant gehad. Ek lees dat John Junior as 13-jarige die

Volunteers se amptelike beuelblaser was.

Die Volunteers moes hoofsaaklik help om die Klein Karoo te patrolleer, op soek na boeremagte wat hier deurbeweeg het tydens die guerrillafase van die oorlog. Daar was wel ’n paar skermut­selings in dié tyd en langs die plaas­like museum is ’n Anglo-Boereoorlog- gedenkteken met die name van ’n paar gesneuwelde Volunteers daarop.

In ’n klein advertensie in die Oudts­hoorn Courant van 21 April 1902 het John Senior die heropening van sy win­kel in die Le Roux Chambers aan­ge­kondig. Die hartseer is dat hy kort daarna, op 10 Julie 1902, oorlede is. Sy sterftekennis sê dat hy in die plaaslike Drilsaal gesterf het. Was dit ’n hartaanval? Wie weet. Hy was net 42 jaar oud.

Dit bring my by John Junior.

Hy is in Glasgow, Skotland gebore, maar het in die Klein Karoo in die Boys’ High School op Oudtshoorn skool­gegaan. Hy was ’n uiters talent­vol­le jongman wat op verskillende gebiede uitgeblink en leierseienskappe getoon het. Hy het byvoorbeeld op jong ouderdom vir die dorp se krieketspan as kolwer op die veld gestap en was later ten minste ’n seisoen die spankaptein.

In die somer van 1913/14 het ’n Engelse toerspan onder kapteinskap van Johnny Douglas deur Suid-Afrika ge­toer. Behalwe vir vyf toetse het hulle ook teen provinsiale spanne gespeel. Dit het ’n wedstryd teen die SWD – John se span – ingesluit. Ek lees hy was ook goed in gholf en biljart, en ook ’n goeie musikant.

John het as boekhouer gekwalifiseer en homself onderskei as iemand wie se netheid en akkuraatheid as ’n voorbeeld vir perfekte boekhouding voorgehou kon word. Hy het in sy kort loopbaan op Oudtshoorn by ten minste drie firmas gewerk – Prince Vintcent, die kantoor van ’n J Matare en laastens by Yeo & Co. En toe breek die Eerste Wêreldoorlog uit.

Hy het by die leër as boekhouer be­gin werk – eers by die Southern Rifles in Port Elizabeth en Kimberley, daarna by die Kaffrarian Rifles in Oos-London en uiteindelik in Pretoria. Hier het hy besluit om as soldaat by die leër aan te sluit en het hy die rang van luitenant ontvang. Hy is gou tot kaptein bevorder. In 1916 het hy en sy troepe noordwaarts vertrek en was hul­le eerste kontak met die vyand tydens ’n suksesvolle offensief in Egipte. Daar­na is hulle Frankryk toe. Hier is hy vroeg in 1917 lig gewond, maar het vinnig herstel en het hom gou weer by sy manskappe aangesluit.

Die laaste veldslag waarby hy betrokke sou wees en uiteindelik met sy lewe sou betaal, het op die Menenweg in Wes-Vlaandere in België plaasge­vind tydens ’n aanval op 20 September 1917 by Frezenbergheuwel net wes van Zonnebeke. Die name mag bekend klink omdat die vorige twee artikels redelik volledig van die Menenweg-veldslag en aanval vertel het.

John Thomas Bain was een van die ten minste vier Suid-Afrikaanse soldate wat daar gesneuwel het en ’n verbintenis met die Klein Karoo gehad het.

Hy en sy troepe was betrokke by die tweede fase van die aanval. Die derde en vierde regimente het eerste aangeval en toe hulle hul doelwit bereik en ingegrawe het, het die eerste regiment, waarvan John deel was, en die tweede regiment die aanval voortgesit. John moes sy manskappe onder andere na ’n betonskuiling met die naam Potsdam lei en dit inneem.

Die Suid-Afrikaners het die skuiling uiteindelik suksesvol ingeneem, maar John het tydens die aanval gesneuwel. In ’n brief van medelye aan sy ma skryf lt-kol Heal (toevallig ook ’n Oudts­hoorniet wat by die Standard Bank ge­werk het en tydens die aanval gewond is): “We attacked on the 20th and it was in that attack that he was killed, gallantly leading his company in the assault.

He was killed by machine gun fire and has been buried where he fell … at the stronghold of Potsdam.”

Nog ’n Oudtshoorniet wat die aanval oorleef het, ’n onder-korp Warren, vertel in ’n brief só van die begrafnis: “He had a decent burial. I was in charge of the burying party that buried him and called Father Hill (our padre) to give the last honours to a hero.

They (John se gesin) will have the consolation knowing he died a hero’s death leading his men”.

Bain se graf is egter nooit opgespoor nie en sy naam verskyn op die Muur van Herinnering aan die Menenpoort in die dorpie Ieper. Hy was 31 jaar oud en ongetroud toe hy gesterf het.

Al drie sy broers het ook in die Eerste Wêreldoorlog geveg! Charles, ’n sersant, het óók in België geveg en ’n militêre medalje vir dapperheid ontvang. Arthur en August het in Duits-Oos-Afrika diens gedoen. Sover ek kon vasstel, het al drie die oorlog oorleef.

• Bronne: Oudtshoorn Courant, SA Wargraves Project.

Kapt John Thomas Bain. Foto verskaf

Kapt John Thomas Bain. Foto verskaf

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?