As dit pap reën…

Saam met Johan Strasheim

Saam met Johan Strasheim

Deur Johan Strasheim
Dit is Vrydag en ek is haastig op pad plaas toe. Die bouery daar is op “auto pilot” deur die week en dit is nie altyd die beste idee in die wêreld nie.

Ek hardloop heen en weer en gryp alles wat nodig is voordat ek die pad vat. Jy kan nie te laat wegkom nie, dan is die dag daarmee heen teen die tyd wat jy daar aankom en die bouers wil nog betaal word ook.
Dié keer besluit ek dat dit tyd is vir ’n stukkie biltong en ek gooi die 30-06 ook in ’n sak met ’n boksie patrone. Dit is hoog tyd dat die wildplaas ook sy deel bring hiermee.

Sodra jy van die N1 afdraai Nylstroom se kant toe, begin dit wildplaaswêreld word met hoë heinings aan beide kante van die pad – omtrent oral. Hier en daar ry jy verby ’n indrukwek­kende plaasingang.
Net deur Marken draai jy regs vir die laaste “stretch” plaas toe. So 27 kilometer verder aan die linkerkant begin Zoetwater se draad en ry ek onwille­keurig stadiger om alles te probeer inneem. Die Bosveld is pragtig en dit ruik lekker. Altyd. Al is dit baie droog soos dit nou is.

Ek kom by die plaashek aan en hou stil om gou oop te maak. Ek stap na die hek toe en merk op dat ou Frans met ’n dringende huppelstappie aangesaag kom hek toe. Ek wag vir hom om te groet.

“Middag Frans! Hoe gaan dit hier?” vra ek ewe belangstellend. Ek merk op dat ou Frans baie onsteld is.
Sonder om te groet, trek hy los. “Hier is groot k**. Die bokke gaan dood.”
Ek skrik my deurmekaar. Dis natuur­lik nie wat ’n wildboer wil hoor nie.

“Waarvan praat jy Frans? Watter bokke? Waar?”
“Hier oral. Hier lê juis een,” en hy wys na ’n groot rooibokram wat nog flouerig lê en skop onder ’n bos. Ek skrik my vrek, maar bly kalm. Wat anders!

“Daar is nog een. En daar. Daar is nog twee.”

Ek sien wat hy bedoel. Die dooie rooibokke lê letterlik die wêreld vol. Of so lyk dit in elk geval. Ek probeer dit alles vinnig verwerk. Die naaste wat ek al hieraan gesien het, was toe daar ’n trop wildehonde deur die plaas by Mopanie anderkant die Soutpansberge getrek en die diere verskrik het.

“Frans, wat die m*** het hier ge­beur? Wat gaan aan?”

Toe kom die storie stuk-stuk uit. Ou Frans neem sy werk baie ernstig op en is bitter onsteld. Die storie agter die storie. Daar is mos altyd een.

As dit droog raak – en die ou Bosveld kan naar droog word – begin die vrylopende wild soms nader beweeg aan waar daar water is. Hulle ruik dit.

Dié dag het daar so ’n groep rooibokke buite die heining langs die gewoonlik stil teerpad afgeloop en Frans het ’n plan gemaak om hulle in die plaas in te keer.

Met die hek wawyd oop na buite en die plaasbakkie dwars geparkeer aan die oorkant en sy helper in die pad so ’n entjie verder. So ’n informele afkeerstruktuur.

Hy hardloop ’n ent terug binne die plaas en kom agter die bokke in die teerpad in om hulle aan te help. Alles het skynbaar pragtig gewerk en ’n stroom rooibokke is by die hek in. Tot op ’n punt natuurlik – toe daar ’n groot trok aangery kom en die drywer op sy toeter klim.

Met dié trompetterlawaai spat die reeds gespanne en verskrikte bokke uitmekaar – binne die plaas – en sewe rooibokke hol hulle disnis in die draadheining vas. Chaos vir ’n paar oomblikke en hope dooie rooibokke!

Nou ja, ons maak toe maar die beste van ’n slegte saak en slag vinnig die klomp bokke af. Ek is sommer reguit Marken Slaghuis toe sodat hulle die vleis vir my kan verwerk.

Die volgende dag kry ek meer detail. Na die petalje is die plaas so ’n klompie rooibokke beter daaraan af en ek gaan die volgende week huis toe met sewe rooibokke se biltong en droë wors. Dit, sonder om ’n skoot te skiet.

As dit pap reën, moet jy seker maar skep.

Log in with your credentials

Forgot your details?