Die Springboks en The Battle of Menin Road -1917

Deur Reinderd Visser

Deur Reinderd Visser

Deel 1 het geëindig waar die Springboks by Frezenberg Ridge gereed was om die oggend van 20 September saam met hul kamerade tot die aanval oor te gaan, hoewel dit die vorige aand hard en aanhoudend begin reën het.

Ná die veldslag skryf Cecil Edmeades in ’n brief: At last the fight is over and we are well away behind the line resting… It was too aw­ful for words to describe. Wat ’n skrille kontras met die optimistiese brief vóór die veldslag! En hier volg die rede:

Presies om 05:40 die dag het die 3de en 4de Suid-Afrikaanse Regiment uit hul loopgrawe geklouter en saam met ’n swaar bombardement van hul eie grof­geskut met die aanval begin. Die ander briefskrywer uit die Klein Karoo, korp Warren skryf: Our objective lay about 600 yards (550 m) away… I was the first man to be over in our platoon.

Hulle was so ywerig om die betonskuilings (die sogenaamde pill boxes) in te neem dat hulle hul eie lewens in gevaar gestel het. Hul ka­non­ne sou bomme voor hulle laat ontplof sodat die vyand hul koppe laag sou hou en hulle die skuilings byna ongehinderd kon bereik. Hulle het egter nie ágter die ontploffende bom­me gebly nie, maar letterlik tús­sen­deur gesystap om so vinnig moontlik by die pill-boxes uit te kom!

Die London Times se korrespondent berig: So keen were the men that (they were) swarming through their own shell fire and falling on the posts amid the dust and smoke before the enemy knew they were coming.

Dit het gewerk. Teen 06:30 was ves­-tings met name soos Beck House, Borry Farm, Vampir Farm en Mitchell’s Farm oorrompel en hulle by hul doelwit. Regs van hulle was egter een groot ves­ting met drie pill-boxes, die Potsdam Re­doubt, wat hul kamerade van die 12th Royal Scots moes inneem. Die vyand daarbinne het sterk weerstand ge­bied en met hul masjiengewere ook in die rigting van die Suid-Afrikaners gevuur. ’n Kaptein van die 3de regiment het spontaan ’n paar manne by­me­kaar gemaak en die vesting binne 15 minute onskadelik gestel.

Die 1ste en 2de regimente het hul aan­val op die oorblywende twee doelwitte om 07:00 begin. Edmeades was deel van dié groep. Hy gee ons ’n prentjie van die toestande waardeur hulle moes ploeter: We had to cross a river, but it had been shelled out of recognition and was a mass of mud holes. Here we sank in up to our thighs in places, and had to pull each other out, a pretty tiring job.

Ten spyte daarvan het die 1ste regiment die vyandige stellings aan die Pots­dam-kant suksesvol aangeval met die 2de regiment wat die gevaarlike Waterend Farm, Bremen Redoubt en Zevenkote met redelike gemak ingeneem het. Hulle kon daarna selfs hul Skotse kamerade help om die moeilike Hill 37 in te neem.

Dit het die Suid-Afrikaners drie ure geneem om hul opdrag te voltooi, ’n enorme prestasie aangesien hul kame­-rade van die ander divisies veel langer geneem het. (Ironies kan ’n mens dieselfde afstand vandag in so min as 10 tot 15 minute stap!)

John Buchan skryf oor die dag: Delville Wood was still for the Brigade the most heroic episode in the War. But its advance on 20th September must without doubt be reckoned its most successful achievement up to that date in the campaign. The day was full of gallant individual exploits.
Ek weet van ’n paar Suid-Afrikaanse soldate wat medaljes van onderskeiding vir hul prestasies hier gekry het.

Met almal redelik veilig ingegrawe skryf Edmeades: And then commenced two days and nights of nightmare! We were shelled morning, noon and night… Warren skryf: He (the enemy) counter-attacked twice… While he coun­ter-attacked he had a barrage going and I can tell you it was simply HELL while it lasted.” Beide teenaanvalle is egter suksesvol afgeweer. Ek het Edmeades in Deel 1 aangehaal waar hy vir sy pa geskryf het: This time there is going to be no withdrawing. Hulle het by hul woord gehou. Hulle hét hul opdrag suksesvol voltooi!

Die hartseer deel kom wanneer ons oor getalle praat. Aan die begin van die aanval was die regimente volgens Bu­chan 2 319 man sterk. Op 22 September toe hulle onttrek is, was net 1 061 pa­rate soldate oor. 263 het gesneuwel en 995 was gewond of vermis.

In Tynecot, die militêre begraafplaas daar naby, is sowat 90 Suid-Afrikaanse grafte. Net ’n handvol het name op. Die meeste gesneuweldes het op die slag­veld bly lê.

Die Suid-Afrikaners het weer van 13 tot 26 Oktober in die voorste loopgrawe diens gedoen. Al was daar geen aksie nie, is hulle konstant gebombardeer en is nog 261 gewond of het gesterf. Die prys was enorm hoog!

Ek kon die name van vier gesneu­welde soldate opspoor met bande met die Klein Karoo. Thomas Ros­coe (31) het nie hier grootgeword nie, maar het as advokaat vir ’n tyd op Oudtshoorn gepraktiseer. Sy vrou, Helen, het vioollesse by die mei­sieskool gegee. Die ander was Andries Herclass Mei­ring van die plaas Warmwater in die Loe­rieskraal-om­ge­wing, Marthinus Petrus Ferreira (38) van die plaas Dwaas buite Uniondale en kapt John Thomas Bain (31), oor wie Warren skryf: He died a hero’s death leading his men. Ek vertel volgende keer meer oor hom.

Al vier het op 20 September gesneu­wel. Daar is nie ’n graf vir hulle nie, maar hul name verskyn op die Meninpoort Gedenkmuur in die dorp Ieper.

Daar is ook ’n paar ander name/byname wat ek in die briewe raakgelees het. Dalk herken iemand een of twee van hulle. Daar was ’n Fourie van Wesbank, “Boef” Hops, Mark Schonken, “Goggles” Pocock, “Broek” Pocock, Walter Thorne (Wil­liam Thorne wat Delvillewoud en oorleef het se broer) en iemand met die naam of van Sessel.

Ek het Frezenberg Ridge in Mei vanjaar besoek. Jy kan die hele gebied waar die Springboks se aanval van 20 September plaasgevind het, van daar sien. Daar is in 2007 ’n gedenksteen opgerig wat eer bring aan die Skotte wat in die oorlog geveg het. Heel gepas word die Suid-Afrikaanse 1ste Brigade ook daar­op vermeld, aangesien hulle byna die duur van die hele oorlog saam met die Skotte geveg het.

En met reg, hulle het hul kant 100% gebring!

• Bronne: The History of the South African Forces in France – John Buchan (1920); The Somme Chronicles – Chris Schoeman (2014); Oudtshoorn Courant van 1917 in CP Nel Museum-argiewe.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?