Die slag by Mesenhoogte

Deur Reinderd Visser

Deur Reinderd Visser

10 – 12  April 1918

DIE aksie in vandeesmaand se verhaal begin net 17 dae ná die deurslaggewen-de slag by Marrièreswoud in Frankryk waar feit­lik die hele Suid-Afrikaanse brigade uitgewis is, maar moedig ’n Duit­se oormag sewe ure vertraag het voordat die laaste oorlewendes oorge­gee het. Dít het egter die terugtrek­ken-de Britse magte genoeg tyd gegee om weg te kom, te hergroepeer en gereed te maak vir ’n teenoffensief.

Die Duitse generaals het besluit om die aandag van hierdie offensief af te lei deur tydelik aanvalle verder noord in België te loods. As die Geallieerdes sou reageer soos verwag – deur troepe van­uit Frankryk te onttrek om te help – kon hulle die offensief hier dan met groter gemak voortsit. Dit het egter beteken dat die sowat 500 moeë Springboks wat ná die eerste aanvalle nog beskikbaar was (hulle was met die Marriè­reswoud-slagting elders ge­sta­sioneer) geen rus-kans sou kry nie. Die uitgedunde brigade is so gou moont­lik met nuwe offisiere en soldate aangevul en die drie regimente met sowat 1500 man is da-delik in die rigting van Me­sen, ’n klein dorpie in België, gestuur.

Die Duitsers het beplan om vanaf 10 April 1918 oor ’n breë front aan die twee kante van die Leierivier aan te val. Die vyand het nie veel teenkanting verwag nie – die Britse magte was moeg en dun gesaai – maar daar was twee strategiese punte wat tog sake kon bemoeilik. Aan die een kant van die rivier moes ’n dorpie met die naam Givenchy so gou moontlik ingeneem word en aan die anderkant was Mesenhoogte – ’n hoogte wat vanaf Mesen ’n paar kilometer noord gestrek het. As die twee punte nie dadelik sou val nie, sou dit verdere aksies erg bemoeilik. Givenchy het nooit in die hande van die Duitsers geval nie, maar die verhaal by Mesen- hoogte het anders verloop. Die Suid-Afrikaners het egter ’n belangrike rol gespeel om te verhinder dat die vyand hier volledig hul sin kry.

Die Duitsers het die oggend van 10 April aangeval en die hele hoogte ingeneem. Die Springboks, wat toe nog agter die front op bystand was, het dieselfde agtermiddag die opdrag gekry om die hoogte weer terug te neem.

Die 1ste en 2de regimente het 17:45 aangeval terwyl die 4de regiment op bystand was (daar was as gevolg van ’n tekort aan soldate nie ’n 3de regiment nie). Teen 18:30 ná hewige hand-tot-hand-gevegte het albei regimente hul doelwitte bereik. Die 1ste regiment het egter so baie manskappe tydens die aan­­val verloor dat hulle nie hul deel van die hoogte volledig kon behou nie. Met ’n teenaanval kon die Duitsers dié ge­deel­te van die hoogte inpalm, maar hul­le kon die Suid-Afrikaners net 100 me­ter terugdryf. Hier het hulle hulleself vir die nag ingegrawe met dié strategiese gebied steeds in Geallieer­de hande.

Op 11 April het die Duitsers weer met vars en uitgeruste troepe aangeval. Die Springboks moes weer swig voor die oormag, maar het weer nie ver te­rug­geval nie en kon hulle weer ingrawe en die aanval ’n tweede keer stuit.

Daardie nag het hulle opdrag gekry om ’n entjie tot by volgende loopgrawe terug te skuif en vir die volgende aanval voor te berei. Die Duitsers wou die hoogte die volgende dag inpalm, maar nie voor die Suid-Afrikaners hulself weer eens onderskei het nie.

In een verslag staan: The Brigade’s tenacity in the face of superior numbers and heavy firing undoubtedly relieved a serious situation, and obliged the enemy, when he was able to occupy the ridge, to be content to stay there during the whole of the 12th April without any further attempt to advance.

Volgens die Official History (wat die volle­dige verhaal van die verloop van die Eerste Wêreldoorlog vertel) het hulle die vyand 30 uur lank vertraag, wat die Britse magte genoeg tyd gegee het om versterkings uit die suide in te bring en ’n volledige ramp af te weer. Die prys was egter groot – die brigade het in die drie dae 639 van hul sowat 1500 man verloor. Meer as die helfte het ge­sneuwel en die res is gewond.

Vir die oorblywendes was daar egter geen rus nie! Hulle het vanaf 16 April by Kemmelberg en 29 April by Scherpenberg, nie ver van Me­sen­hoogte af nie, by nóg gevegte betrokke geraak. Dit het aangehou tot 5 Mei en weer baie manskappe geëis! Eers tóé kon hulle rus.

Die begraafplaas vanaf die hoogte by Mesen in die rigting waarvandaan die Suid-Afrikaners op die middag van 10 April 1918 aangeval het en waar hulle vir drie dae uitgehou het.                              Foto: Reinderd Visser

Die begraafplaas vanaf die hoogte by Mesen in die rigting waarvandaan die Suid-Afrikaners op die middag van 10 April 1918 aangeval het en waar hulle vir drie dae uitgehou het. Foto: Reinderd Visser

Reinderd Visser gee met dank erkenning aan die volgende bronne vir sy verhaal uit die Eerste Wêreldoorlog regs: John Buchan: Springboks in France; Chris Schoeman: The Somme Chronicles; Oudtshoorn Courant (Argief CP Nel Museum).

Ek het die Mesenhoogte-slagveld in 2016 besoek en ’n uiters emosionele ervaring by die begraafplaas gehad! ’n Man uit Engeland het die name van die gestorwenes een vir een hardop ge­lees – rang, naam, eenheid, ouder­dom en datum ge­sneu­wel.
Toe ek vra waarom, was sy antwoord dat dit sy eerbetoon aan die soldate was.

Wil jy meedoen? Lees dan die volgen­de name hardop, want dit is die manne uit ons streek wat ek kon opspoor wat tydens die gevegte by Me­senhoogte gesneuwel het. Hul lig­game is nooit gevind nie en hul name verskyn daarom op die gedenkmuur aan die Menenpoort in die dorp Ieper:
Skutter James Elliot van der Riet (27) 1ste regiment, 10 April (Adderley­­straat); skutter Cyril Wiggett (27), 1ste regi­ment, 10 April (St Saviourstraat); skutter Willie Coetzee (18), 12de regiment, 2 April (Jubilee­straat); skutter Harry Lampard Hare (40), 2de regiment, 12 April (Oudtshoorn).

Die Springboks het binne 20 dae (op 24 Maart by Marriè­reswoud en 10 tot 12 April by Me­senhoogte) in twee deurslag­ge­wen­de veldslae teen ’n oormag geveg en volgens betroubare bronne onverskrok­ke ’n klein, maar belangrike rol gespeel om hul magte uit kritie­ke situasies te red. Springboks, vandag (12 April 2018), presies 100 jaar ná dié dapperheid, salueer ek julle!
– Reinderd Visser

Log in with your credentials

Forgot your details?