Die rolstoelmense

Deur Tania Smit

Deur Tania Smit

As jy weer in die Kaap in die straat stap, sal jy dalk vir Attie in ’n rolstoel sien aankom en dink jy weet hoe is mense in rolstoele, en wegkyk, of te lank kyk.

Jy sal dan die spesiale rolstoelboks waarin jy mense soos hy file, gaan uithaal in jou brein, en die prentjie van hom daarin gooi, amper soos ’n vuur­houtjieboks.

Jy sal dink jy ken hom, maar jy sal weer moet kyk.

Want Atta is ’n man wat net nou die dag nog met Riet en sy drie dogters Vic-valle toe gery het. Via Aus. En Lü­deritz. En die Dooie Pan. En Swakopmund. En Omaruru. Deur die nagte onder die sterre het hy gery, omdat die sterrehotel die mooiste en die goedkoopste is, en elke sterrenag ’n duisend kilo’s se meersien was.

Jy sal ook nie weet dat hy dan voor sonsopkoms gou afgetrek, en so twee ure geslaap het, en met groot lus vir die dag saam met die meisies wakker geword het, en die nuut opgeslurp het net soos elke ander uitgeruste mens nie. Want jou vlakkyk sal jou nie wys dat Atta elke krieseltjie van die lewe soos suurstof kan inasem nie.

Jy sal ook nie weet dat hy ’n pappa is wat elke oggend sy Zanna-kind se broodjies maak, en in die aande nog met ’n nat, fietsgeryde werkslyf kon aankom met ’n groot glimlag, ’n wyn en ’n kasie in sy sak nie. Vir lekkersit, en lank gesels, en lekkerkry.

Ook nie dat hy net nou die dag nog die Double Century sou fietsry. Of dat hy ’n Griekse dosent was.

Of dat hy die beste vis kan braai, en steeds verlief is op sy Riet na amper 30 jaar nie.

Of my tent se penne in die nag vir my wil kom inslaan, al het hy sopas sy hele gesin van vyf se penne na werk en pak en aankom ingeslaan nie.

Ook nie dat hy nog sy hele lewe deur Afrika wou fietsry en anyway waar­skynlik nog gaan, al is dit nou net met sy arms nie. Want met jou kyk jy sal nie weet dat At se hardste sag is dat hy nie nee vat vir ’n antwoord nie. Nooit nie.

So, as jy weer ’n mens met ’n rolstoel sien aankom, beter jy mooi kyk verby die wiele na die mens wat daar sit, want as dit Attie is, sal jy ’n kroon op sy kop sien en sal jy ’n skuur se stoorspasie nodig hê om hom in jou kop te file.

Want hy, net soos elke ander mens soos hy, het dubbeljy, al sittend en krui­pend, die hoogste pieke van die wêreld al uitgeklim.

Ongesiens. Terwyl die res van “normaal,” al vanselfsprekend, met ken omhoog en witbrood onder die arm, toe oë deur die lewe verby die blomme geloop het.

Log in with your credentials

Forgot your details?