Die lewe is ’n lied!

Deur Johan Strasheim

Deur Johan Strasheim

Ek het destyds elke Saterdagoggend baie vroeg in my plaasklere gespring en die pad gevat plaas toe anderkant Marken, Baltimore se kant toe. Prag­tige Bosveld met maroela- en harde­koolbome.

My Saterdae het weer aan my behoort na die kinders met skool klaar was en ek weer naweke dinge kon doen.

Naweekboere woel maar so op Saterdae. In die week moet daar gewerk word om die plaas te maak werk. Dan lees jy maar die Landbouweekblad by die huis.

Die roetine was soos klokslag… brekfis by die Wimpy net duskant die Kranskop-tolplaza, dan deur Nylstroom en Melkrivier na Marken en die laaste stukkie plaas toe.

Dit was veral elke keer lekker om te ervaar hoe die son op­kom en die dag oor die Bos­veld breek.

Dagbreek daar is baie spesiaal, want die baie voëls maak dit so.

Die tarentale, fisante en patryse klink altyd verheug om aan te kondig dat hulle nog’n nag oorleef het – want die nag is wanneer die ernstige kant van die natuurlike voedselketting ’n werklik­heid word vir hulle.

Op die plaas wag ou Frans oudergewoonte vir my en ons gaan deur alles.
Gewoonlik is daar ’n haastige draai by die koöperasie op Baltimore ook in die mengsel. ’n Plaas sluk mos draad, pale en diesel.

Ons laai af, ek gee instruk­sies vir die volgende week se take en dan gaan ry ek ’n lang draai en soek wild. Jy weet presies hoe hulle lyk, maar jy hou in elk geval stil en verwonder jou elke keer oor die statige prag en praal van ’n groot Koedoebul.

Al die drinkplekke en sonpompe word nagegaan en die heining bekyk vir swak plekke. As dit gereën het, kan jy rondloop en spore kyk; anders is dit maar net een groot warboel duikies in die sanderige grond. Soms sit jy sommer net onder ’n groot maroelaboom en neem alles in. Saligheid.

Toe breek dié dag aan.

Almal wil saamkom vir ’n uitstappie – my vrou, my dogter en ’n maat. So gesê, so gedaan. Ons is by die huis weg in my wit Jeep en die pad sleep onder ons deur terwyl almal opgewonde ge­sels. Op die plaas is dit die gewone roetine – kyk na die take wat die vorige week uitgedeel is en maak gou hier en daar iets reg. Die ou Lister op die boorgat het juis so moeilikheid gegee.

Ons maak lekker piekniek onder die groot seringbome waar die nuwe kampplek gebou gaan word, ry rond, stap lang ente. Ons moet bietjie vroeër terug, want die Britse Leeus speel vroegaand teen die Springbokke. Ons pak op, groet vir ou Frans en draai – soos altyd – met ’n swaar gemoed op die grootpad huis toe. Nie lank nie of ek sien die Jeep word sommer skielik warm en terwyl ek nog dink wat my te doen staan, is die hele voorruit binne-in ’n wolk spierwit stoom en die Jeep gee die gees.

Ek “free” maar van die pad af…en daar staan ons. Die Jeep is dood en ons moet huis toe om te gaan rugby kyk. Die pad is soos gebruiklik, doodstil.

Ek bel dadelik my buurman om te kom help. Arrie en sy seun Klein Arrie kom sleep ons die entjie terug plaas toe.

Ek begin bel. Al my pelle met vliegtuie. Dit gaan die vinnigste wees. Almal kan nie of wil nie en die spektrum redes sluit in “Ek het mense” tot “Jammer, ou, maar ek het klaar ’n bier gedrink”.

Toe bel ek vir Gert. Gert is nie so groot op rugby nie en sê dis reg. Hy kom. Dit is baie moeite – lughawe toe, vliegtuig uit die loods trek, brandstof ingooi… en vlieg Baltimore toe. Daar is darem ’n lekker landingstrook daar.

Klein Arrie gaan laai ons gou daar af en daar staan ons miserabele groepie met lang gesigte in die laatmiddag-winterson met ’n leë koelboks langs die aanloopbaan. So wag ons.

Nie te lank nie en ons hoor Gert se Aerostar, ZS-NNV, kenmerkend dreun in die verte. ’n Aerostar klink darem maar net anders as ander vliegtuie. Hy maak ’n stywe draai bo-oor die aanloopbaan en land haastig van die vêr kant af, want dit raak al skemer.

Ons klim vinnig in en sommer gou is die sagte pastelkleure van ’n bosveldsonsondergang iets van die verlede en ons in die nag op koers Wonderboom lughawe toe. Dis altyd lekker om in die nag te vlieg as die weer goed is.

Ons land, parkeer, laai af en bêre sy vliegtuig. Gert gaan laai ons by die huis af. Dankies in oorvloed aan hom want dit was ’n reuse guns.

Daar is mos drie tipes vriende in die lewe: dié wat jou help as jy in die moeilikheid is, die wat jou vermy as jy in die moeilikheid is, en dié wat jou in die moeilikheid kry!

Nou ja, Gert is ’n yster. Mens het nie baie vriende nodig as hulle soos hy is nie.

So was dit dié Saterdag. Ons het die rugby gemis, die kinders is laat vir hulle afsprake en almal is honger en moeg; my Jeep staan stukkend op die plaas en ek skuld my vriend ’n baie groot guns. Maar ja, ek glimlag oor my oënskynlike ellende, want eintlik is die lewe ’n lied – al ken jy nie altyd die woorde nie!

Gert se Aerostar land in die skemer op die dag van teenspoed!

Gert se Aerostar land in die skemer op die dag van teenspoed!

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?