Die kamphond Scrufter

Deur Johan Strasheim

Deur Johan Strasheim

Deur Johan Strasheim
Scrufter was destyds een van ons ­kamp­honde in die Zambezi Delta jagkamp. Aanvanklik het sy nie na veel gelyk nie … maer soos ’n Minora en al wat jy sien is bene, senings en naels en na­tuurlik bodemlose uitbundigheid. Maar het die hondjie karakter gehad!

Kalm en dapper met totale en naïewe toewyding aan haar vriend wat haar vir R5 gekoop het by ’n nedersetting daar naby.

Ons het twee honde in die kamp gehad – Scrufter en K’doi – albei volbloed Africanis-brakkies en maats met al wat leef en beef in die kamp – al die kliënte ook! Die Delta met sy groot tse­tsevlieg-bevolkings is ongelukkig slegte nuus vir honde.

Iewers in die 2009-seisoen word Scrufter skielik siek en ons besluit om haar uit te vlieg Nelspruit toe vir mediese sorg. Sy was regtig siek en dit was ernstiger as wat die manne in die kamp kon regdokter.

Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan – want so ’n oefening het sy eie stel logistieke uitdagings sonder die nodige permitte en ander papierwerk. Ons het niks gehad nie. Ek het nie tyd vir bekommer gehad nie en sê maar ek sal dit uitsorteer wanneer ons daar kom. Braaf? Baie. Wys? Wel, miskien nie so baie nie. Nietemin, ons vertrek die og­gend met Scrufter in die vliegtuig met ’n kliënt wat haar oppas agter tussen die sitplekke. Die hond is baie siek.

Die formaliteite by die lughawe in Beira is altyd maklik, want die plek is rustig en die amptenare oor die algemeen ook maar lui. Almal ken my daar en dit help natuurlik. Uiteindelik land ons by ’n plaaslike internasionale lughawe, natuurlik nog steeds sonder ’n plan met die hondjie.

Toe ek uit die vliegtuig klim, gewaar ek uit die hoek van my oog ’n ry van omtrent ses amptenare en polisiemanne met gloeiende geel oorjassies wat nader gestap kom na ons waar ons geparkeer was. Dit was die laaste ding wat ek wou hê. Ek leun instinktief in die vliegtuig in en sê gou vir die kliënt om sy jaggeweer en geweerpermitte gereed te hê indien die polisiemanne dit wil sien.

Ek het geweet dit sou hulle ’n rukkie besig hou, want daardie papierwerk is ten minste in orde. Ek raap die siek hond in my arms op en stap dringend reguit op die mees senior van die klomp af en praat hard en aanmekaar sodat hy nie ’n kans kry om my iets te vra nie. Na honderde kere deur lug­hawens weet ek mos wat hulle wil kyk en sien!

Ek sê aan hom om asseblief die vliegtuig te inspekteer en die jagter se vuurwapenpermitte na te gaan. Ek hou natuurlik aan met loop – met groot treë – en het eers omgedraai en oogkontak gebreek met: “Ek sien julle oor ’n ­minuut, ek moet net gou die siek hond uitsorteer”.
My onbeplande “verbale skild” het gewerk en ek peil op die hoofgebou af.

Volgende probleem – hoe gaan jy deur die formaliteite by ’n internasio-na­le lughawe met doeane en immigra­sie sonder papierwerk vir ’n hond. Jy gaan natuurlik by die Domestic Arrivals-deur in en nie by die International Arrivals-deur nie. Dit was ’n slim plan, want met binnelandse aankomste is daar ­natuurlik geen prosedures om te volg nie.

Soos blits is ek deur die aan­komssaal en uit in die parkeerterrein waar ’n veearts my inwag – sonder dat iemand ’n wenkbrou lig. Scrufter was nou in goeie hande en ek kon weer fokus op my onmiddellike probleme.

Ek was by die vliegtuig terug nog ­voordat die doeane-mense en polisie hul werk klaargemaak het. Ek het ouder gewoonte die kliënt deur die prosedures by immigrasie en die doeane begelei. My beskermengel was natuurlik aan diens daardie dag – en die lughawepro­sedures het veel te wense oorgelaat.

Scrufter is na die plaaslike veearts se praktyk waar hy alles moontlik gedoen het. Sy het dit egter nie gemaak nie. Die tsetsevlieë het hulle tol geëis.

Sy was seker maar nie bestem om ’n ou hondjie te word nie nie, maar sy het ongelooflik baie vreugde kamp toe gebring en was ’n vriendjie vir ons almal terwyl ons haar gehad het.

Ek dink steeds gereeld aan haar en die uitdagende oomblikke deur die lughawe daardie dag. Haar gees leef voort. Haar naam was Scrufter. Dit kon seker enige iets gewees het.
Sy was maar net ’n jaar oud.

’n Treffende foto van die emosionele afskeid tussen Scrufter (voor), K’doi en hul baas die oggend voor die vertrek Suid-Afrika toe om Scrufter se lewe te probeer red - amper soos ’n stille gebed. Foto: Johan Strasheim

’n Treffende foto van die emosionele afskeid tussen Scrufter (voor), K’doi en hul baas die oggend voor die vertrek Suid-Afrika toe om Scrufter se lewe te probeer red – amper soos ’n stille gebed.  Foto: Johan Strasheim

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?