Booi Tshikila van Oudtshoorn het eeu gelede SS Mendi-seeramp oorleef

Booi Tshikila

Booi Tshikila

Reinderd

Reinderd Visser

Deur Reinderd Visser

‘Kan dit wees? Het hier op Oudtshoorn iemand gewoon en gewerk wat die SS Mendi-ramp van 21 Februarie 1917 oorleef het?’

Ek het verlede jaar iemand in Bridgton besoek wat my gebel het na aanleiding van my artikel oor die South African Native Labour Corps (SANLC). Dit was ’n korps van swart soldate wat op die been gebring is om in Frankryk by die hawens te help met die aflaai van toerusting wat na die oorlogsfront moes gaan. Die vrou wat my gebel het, het gesê dat haar oupa Booi een van hierdie swart soldate was en ek wou meer oor hom uitvind.

Dit was ’n heerlike en interessante gesprek, maar in ’n stadium het sy gesê: “Ek het soms aan my oupa se voete gesit en dan het hy vertel van die skip waarop hy was wat gesink het. Hy het gesê dat hy en ’n vriend op ’n stomp kon klouter om uit die koue water te kom en daar het honderde lyke om hom gedryf. Sy vriend het egter moeg ge­word en het ongelukkig ook in die wa­ter weggesak.”

Hierdie woorde het my onmiddellik laat regop sit! Kan dit wees? Het hier op Oudtshoorn iemand gewoon en gewerk wat die SS Mendi-ramp van 21 Februarie 1917 oorleef het? Skielik het sy my aandag eenhonderd persent gehad! Ek móés meer uitvind! Wat volg, is ’n deeltjie uit Booi se lewensverhaal.

Booi Tshikila, ’n Xhosa, is vroeg in die 1890’s in Fort Beaufort in die Oos-Kaap gebore. Hy het as jong man in sy 20’s besluit om by die SANLC aan te sluit en Europa toe te gaan. Hy het in Januarie 1917 per skip na Frankryk ver­trek om daar in ’n hawe te gaan werk. Die vraag is, was Booi wel een van die swart soldate op die rampspoedige SS Mendi en was hy inderdaad een van die byna 200 oorlewendes? Ek wou tog bevestiging kry dat hy nie dalk op ’n ander skip was wat gesink het nie.

Net om lesers se geheues te verfris – die SS Mendi het op 21 Februarie 1917 met 805 swart soldate vanaf ’n hawe in Engeland na Frankryk vertrek. In die digte mis het ’n ander geallieerde skip, die SS Darro, teen die Mendi gebots. Water het dadelik in die skip begin instroom en dit het binne 20 minute ge-sink. 607 swart soldate het verdrink of in die koue water verkluim.

Dit was heel eenvoudig om ’n volle­dige lys van die gestorwenes van die SS Mendi-ramp te vind – die kuberruimte bied genoeg webwerwe met hul name. Ek kon egter nêrens ’n lys van die byna 200 oorlewendes kry nie! Dit het my uiteindelik ’n heen-en-weer-korrespondensie met die SANW gekos om bevestiging te kry en, ja, dit blyk dat Booi Tshikila wel op die SS Mendi was! Hier op Oudtshoorn het iemand gewoon wat daardie tragiese ramp oorleef het! Kort na die ramp is hy en die ander oorle­wen­des wel Frankryk toe geneem om hul kontrak te voltooi.

Booi Tshikila het ná sy ontslag terug­gekom Suid-Afrika toe en aanvanklik teruggekeer Fort Beaufort toe om sy fa­milie op te soek. Met sy tuiskoms het hy egter ’n ander ontvangs gekry as wat hy verwag het. Dit blyk dat die weermag die familie laat weet het dat hy op ’n skip was wat gesink het en waar­skyn­lik verdrink het. Toe hy dus by die huis aangestap kom, het hulle gedink dat hy in die vorm van ’n spook aan hulle verskyn het, en het almal vreesbevange die veld ingehardloop! Hy kon hulle darem uiteindelik oortuig dat hy nog lewendig was en nie ’n spook nie!

Nie lank daarna nie het hy wes-waarts getrek op soek na werk en so hom hier op Oudtshoorn kom vestig. Hy het onder meer help bou aan die kanaal aan die suidekant van die dorp. Hier het hy ook sy groot liefde gevind en is hy met Sabina, ’n bruin meisie, ge­troud. Hulle was lank saam en met haar afsterwe is hy nog ’n keer getroud. Hy het altesame sewe kinders gehad, waarvan twee nog leef en albei in die Klein Karoo woon. Dit was dan ook by sy een dogter en ’n kleindogter waar ek so lek-ker gekuier het.

Die dogter vertel dat hulle lank in Vic­toriastraat in Noord-end gewoon het, totdat hulle in die sestigerjare weens die apartheidswette verskuif is. Sy onthou dat, nie ver van hul huis in Victoriastraat nie, ’n lekkergoed- en ta­bakfabriek was, asook die Volks­kerk en Herrie se winkel. Ná die uitsetting het Booi in die Klaarstroom-gebied gaan boer en later ook ’n draai in Wellington gemaak. Hy is op 6 Januarie 1980 oor­lede en sy graf is in die Bokkraal Begraafplaas op Dysselsdorp.

Die verhaal het ’n nadraai. Daar word rondom 21 Februarie 2017 belangrike her­denkings in Engeland ge­hou om die ramp van presies 100 jaar ge­lede te ont­-­­hou, en nasate van soldate wat op die SS Mendi was, is ook ge­nooi. So word spesiale hulde gebring aan soldate wat vroeër weinig erkenning vir hul werk en opoffering gekry het.

Booi Tshikila se kleindogter wat my getelefoneer het, sal ook daar wees. Ek vertel volgende keer meer oor die SS Mendi en die verrigtinge in Engeland en hier in Suid-Afrika.

 

Booi Tshikila van Oudtshoorn.

Log in with your credentials

Forgot your details?