Steeds kritiek, al reën dit

HIerdie foto is Dinsdag op die pad tussen Prins Albert en Prins Albertweg geneem waar dit onlangs nog amper woestyn was. Soos hier staan daar oral poele water na die goeie reëns die afgelope week in die gebied in en om Prins Albert.  Foto: Marlene Malan

Hierdie foto is Dinsdag op die pad tussen Prins Albert en Prins Albertweg geneem waar dit onlangs nog amper woestyn was. Soos hier staan daar oral poele water na die goeie reëns die afgelope week in die gebied in en om Prins Albert. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
Die watersituasie in en om Prins Albert bly kritiek ondanks sowat 25 mm reën wat sedert verlede Donderdag geval het.

Stortreën en hael, gepaard met donderweer en blitse, het welkome verligting gebring vir verdorde tuine en kaal weidingsgrond. Op sommige plase het hael plaashuise se ruite uitgeslaan. Boere is versigtig optimisties en sê nog ’n paar dae van reën kan dié droogterampgebied op die herstelpad plaas, hoewel die droogte nog nie gebreek is nie.

Vir dorpsinwoners bly die streng waterbeperkings – nou Vlak 3 – egter van krag. Die kwota van 90 liter per persoon per dag word steeds toegepas, en op ’n spesiale raadsvergadering verlede Vrydag is die gratis maandelikse 6 kiloliter per huishouding afgeskaf, behalwe vir deernisgevalle.

Die burgemeester, Goliat Lottering, het ook ’n openbare vergadering oor die dorp se waterpro­bleme toegespreek, waar inwoners kans gekry het om vrae te vra en kritiek uit te spreek.

Behalwe konstruktiewe voorstelle soos dat ’n wateroudit, wateropvoeding en klimaatsveranderingnavorsing gedoen word, het inwoners die munisipaliteit beskuldig van gebrekkige beplanning en instandhouding van die waterstelsel, en dat hy nou krisisbestuur toepas. Volgens Lydia Barrella, kurator van die Fransie Pienaar-museum en lid van die Prins Albert-kultuurstigting, is die raad al in 2004 gewaarsku dat die dorp ’n waterkrisis gaan beleef. Op ’n waterforum in 2008 is hy gewaarsku om ’n twintigjaarplan in plek te hê, “maar niks is hieromtrent gedoen nie. Hoeveel onderverdelings en boorgate, swembaddens en gastehuise nóg wil die dorp toelaat?” het sy onder toejuiging gesê.

Inwoners het die afgelope week ook die munisipaliteit van rassisme en die saai van verdeeldheid in die dorp beskuldig, omdat hy daagliks ’n vergelyking op sosiale media tref tussen die waterverbruik van die bruin woonbuurt Noordeinde en die res van die dorp, wat hy “Suideinde” noem. Laas­genoemde dra 98% van die dorpsekonomie, en huisves onder meer die hospitaal, kliniek, gevan­ge­nis, polisiekantoor, meeste winkels, die hotel, gastehuise en restaurante, munisipale geboue, lig­te­nywerheidsgebied, tehuis vir bejaardes, hoër­skool en skoolkoshuis. Duisende van Noordeinde se inwoners werk bedags hier of op plase.

Op die spesiale vergadering het die raad onder meer aanbeveel dat hoë waterverbruikers weekliks gemoniteer en met hulle gekommunikeer word; watervoorsiening tussen 23:00 en 06:00 steeds gestaak word; alle swembaddens vanaf 1 Maart bedek moet word en die bou van nuwe swembaddens na die raad verwys word vir oorweging; en die administrasie navorsing doen oor die volhoubare lewering van huidige en toekomstige waterhulpbronne.

Log in with your credentials

Forgot your details?