Reën maak harte bly

Deur Liesel le Roux
GOEIE reën het Dinsdagmiddag laat op Oudts­hoorn begin uitsak – ’n welkome verkwikking in die huidige droogte wat die Wes-Kaap teister.

Reën van tussen 14 mm en 32 mm is teen gisteroggend in en om die dorp gemeet. Volgens Joey de Kock het hul reënmeter op die dorp op 26 mm ge­staan. By die Raubenheimerdam is daar volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, 28 mm gemeet en by die Rust en Vrede Waterval 32 mm. By De Oude Meul in Schoemanshoek is 30 mm gemeet.

Joey Potgieter wat in die Welbedacht-omgewing boer, het teen gisteroggend 14 mm reën gemeet. “Hoewel die reën wat geval het, nog nie die droog­te in die landbou gebreek het nie, gee dit ons hoop en vertrou ons nog reën gaan val,” het hy gesê.

Die Raubenheimerdam was gisteroggend 68% vol, maar baie water was volgens Mangqwengqwe nog op pad na die dam toe, met goeie reën wat in die Swartberge geval het.

• Ook in en om die droë Calitzdorp het reën geval. Rienie Oosthuizen het op die Facebook-bladsy Calitzdorpers geskryf dat amper 16 mm in die dorp geval het. Volgens Tessa Horan is 25 mm in Groenfontein gemeet en volgens Selma Nel 18 mm in Matjiesvlei.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?