Kleinbegin-werkprojek wil gestremdes help

Die werkers by Kleinbegin: Ollie Monroe, Pieter Lewis en Sharon Saayman.       Foto: Liesel le Roux

Die werkers by Kleinbegin: Ollie Monroe, Pieter Lewis en Sharon Saayman. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
HY wil graag ander mense by sy werkprojek betrek sodat hulle ook kos op die tafel kan sit, sê Ollie Monroe toe Die Hoorn die Kleinbegin-werkprojek Maandagoggend besoek.

Monroe sit saam met Pieter Lewis en Sharon Saayman by ’n ou tafel in ’n oop ruimte skuins oorkant die Bongolethu Poskantoor; ’n boom se flikkerskadu hul enigste skuiling teen die Klein Karoo se hitte.
Monroe se werkprojek se naam is Kleinbegin, ’n naam wat iets vertel van hoe Monroe hierdie projek van hom aanpak. Hulle drie maak hier juweliersware van volstruiseierdop – oorbelle en hangertjies wat hulle aan onder meer kurio­win­kels verkoop.

Monroe het in Janua­rie met die projek be­gin.

Hy wil veral graag gestremdes help, sê Monroe, wat as kind polio gehad het. Lewis is ’n epilepsielyer.
“Ek het egter ondersteuning nodig, want ons handgereedskap is oud en ons werk maar stadig daarmee, en ons het ’n beter skuiling nodig teen wind en weer,” sê Monroe.

Hy sê al kan iemand net met ’n paar pale en sinkplate help vir ’n skuiling teen die son en wind en reën, sal dit al baie help.

Hy droom egter van ’n vertrek waarin hulle kan werk, van beter masjiene waarmee hulle vinniger kan werk, en veral ook om opleiding en werk aan meer mense te verskaf.

Hy het ook ’n kursus in George gedoen waar­in hy geleer het om rolstoele te herstel, en sal graag sy kennis met ander wil deel sodat hulle dit ook as deel van die projek kan begin doen.
Kontak Monroe by sel 078 323 38703.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?