Hoër damwal en nuwe pype vir dorp

 

Die Koos Raubenheimerdam. Foto: Ernst von Finckenstein

Die Koos Raubenheimerdam. Foto: Ernst von Finckenstein

Munisipaliteit lig in oor waterplanne

Deur Liesel le Roux
DIE verhoging van die damwal van die Raubenheimerdam en ’n pyplyn na Dysselsdorp is van die planne op die tafel om voldoende water vir die inwoners van die Groter Oudtshoorn te verseker.

Chris Koch, waarnemende direkteur tegniese dienste, raadslid Johan Fourie, voorsitter van die raad se tegniese komitee, en die burgemeester, Colan Sylvester, het Dinsdagmiddag by ’n pers­konferensie gesels oor dié waterplanne vir die Groter Oudtshoorn.

Koch het gesê met die verhoging van die Raubenheimerdam se wal kan voldoende water vir Oudtshoorn oor die volgende 15 jaar verseker word.

Die munisipaliteit het ook aansoek gedoen vir befondsing vir die beplanning van nog ’n dam, bekend as die Kombuysdam, en die vervanging van die verouderde pyplyn vanaf die Raubenheimerdam.
Koch het daarop gewys dat 25% van die water in die Raubenheimerdam aan die boere behoort, en daar gepoog wil word om die water van die Kombuysdam aan die boere beskikbaar te stel sodat die Raubenheimerdam se water dan slegs deur die munisipaliteit beheer kan word.

Volgens hom vereis die Departement Water en Sanitasie egter tans dat verskeie stappe eers gevolg moet word voordat goedkeuring verleen word vir die bou van ’n nuwe dam. Dit sluit in voldoende bewys van waterbewaring in ’n dorp, die skoonmaak en hergebruik van rioolwater en die gebruik van grondwater, soos die Blossomsprojek.

Koch het gesê daar is nog nie inligting beskikbaar oor hoeveel water die Blossomsprojek kan le­wer nie, en dat so ’n studie gedoen sal moet word.

Volgens hom word ook beoog om ’n watergebruikersvereniging vir die Raubenheimerdam op die been bring. Deel van dié beplanning is dat inwoners wat nie leiwater wil hê en daarvoor wil betaal nie, dan sal kan aansoek doen om daarvan kwytgeskeld te word.

Wat Dysseldorp betref, is daar planne vir ’n pyp­lyn van die Rust en Vrede Waterval na Dysselsdorp om water aan die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS) voorsien. “Dit sal skoon drinkwater dadelik beskikbaar kan stel aan en ook die bou van nog huise in Dysseldorp moontlik maak.”
Dysselsdorp en die gebied wat deur die KKLWVS van water voorsien word, gaan elke somer gebuk onder ernstige watertekorte.

Koch het daarop gewys dat alle pypleidings in die hele Groter Oudtshoorn baie oud is en onderhoud vir dekades nie gedoen is nie. Dit is ook die oorsaak daarvan dat ’n pyp in Dysselsdorp onlangs as gevolg van ouderdom ontplof het en die dorp en omgewing sonder water gelaat het.

Spaar water; meld probleme aan
Fourie het ’n beroep op inwoners gedoen om water spaarsamig te gebruik en probleme soos pypbarste, gate in die strate en stormwaterdeksels wat weg is, so gou moontlik by die munisipaliteit aan te meld.
Hy het ook gevra dat onwettige water- en elektrisiteitsaansluitings aangemeld moet word.

Meld misbruik van voertuie aan
Sylvester het by Fourie aangesluit en gesê inwoners moet aan hulleself begin dink as aandeelhouers in die munisipaliteit. “Saam met die inwoners kan ons die dorp herstel. Inwoners is saam verantwoordelik om toe te sien hul betaal rekeninge betyds en herstel lekkende krane en pype.”
Hy het inwoners ook gevra om die misbruik van munisipale voertuie aan te meld en registrasienommers of selfs foto’s van sodanige misbruik aan die munisipaliteit te stuur.

Log in with your credentials

Forgot your details?