‘Droogtes kies nie grense’

Provinsie hou droogtehulp-werksessie in Prins Albert

Bo: Boere van Prins Albert, Laingsburg en Beaufort-Wes en omgewing het ’n droogtehulpwerksessie op die skouterrein in Prins Albert bygewoon. Links: Die sprekers by die droogtehulpwerksessie, Francis Steyn en dr Louis du Pisa­nie. Foto’s: Marlene Malan

Bo: Boere van Prins Albert, Laingsburg en Beaufort-Wes en omgewing het ’n droogtehulpwerksessie op die skouterrein in Prins Albert bygewoon.
Onder: Die sprekers by die droogtehulpwerksessie, Francis Steyn en dr Louis du Pisa­nie. Foto’s: Marlene Malan

Droogte werksessie Marlene (2)

Die krisis van ’n droogte
• ’n Emosionele en moeilike tyd vir boere.

• Prins Albert gemiddeld twee grade warmer as 30 jaar gelede

• ‘Wees in krisis bedag op mekaar se emosionele welstand. Moet nooit te skaam wees om professionele hulp te kry nie.’

Deur Marlene Malan
’N NASIONALE beleid is nodig vir droogte­bestuur. Dis tragies dat droogtes, droogterampgebiede en droogtebeleide deesdae provinsiaal ge­hanteer word, “want droogtes kies nie grense nie en provinsies het nie eintlik ’n begroting hiervoor nie”.

So het dr Louis du Pisani van die Nasionale Wolkwekersvereniging Dinsdag 28 November gesê op ’n provinsiale droogtehulp-werksessie in Prins Albert. Dit is gereël deur LandCare in die Wes-Kaapse Departement Landbou. Behalwe boere van die onmiddellike omgewing, is dit ook bygewoon deur boere van so ver as Laingsburg en Beaufort-Wes.

Droogtehulp in die Wes-Kaap “is reeds uitgebrei tot sowat R100 miljoen,” het Francis Steyn van Landcare Wes-Kaap gesê. Steyn en Phyllis Pienaar van LandCare Beaufort-Wes het ’n opname onder die boere gemaak oor hulle belangrikste knelpunte. Dit sluit in arbeidskwessies, Eskom se elek­tri­si­teits­heffing, die maatstawwe waarvolgens droogtehulp toegeken word, droogtehulp aan wildboere, volhoubare hulpbronbestuur en droogtehulptoekenning volgens drakrag.

Volgens Du Pisani is hierdie langdurige droogte “ ’n emosionele en moeilike tyd” vir boere. “Ons het in hierdie land voorheen een van die beste droogtebeleide gehad, en ’n groep top-droogte­kundiges.” Du Pisanie se boodskap was dat ’n droogte bestuur kan word. “Droogtebestuur be­staan uit drie dele – die voorbereidingsfase, die droogte self en die herstelfase. Die eerste fase is wanneer dit reën en dit goed gaan op die plaas. Die veld is in ’n goeie toestand, maar dis ook wanneer ’n boer voorsiening moet maak vir ’n moontlike droogte, soos om na sy finansiële posisie te kyk.

“Nou is boere midde-in ’n droogte. Dis wanneer vee verminder moet word – solank jy dit sinvol doen. Daar is ’n kritiese punt wat jy nié moet oorskrei met veevermindering nie. Daar­die kritiese punt is jou kernkudde. Dis belangrik dat jy minstens twee-derdes van jou kernkudde behou.

“Nou is dit die tyd dat jy streng finansiële be­stuur moet toepas. In ’n droogtetyd is daar nie heilige koeie nie. Raak ontslae van enige luukses. As jy of jou vrou enige ander by­ko­mende werk kan doen, doen dit. Verdien ekstra. Ver­koop nie-boerderybates. Pas krisisbestuur toe.”

Daar is ook bepaalde voerpraktyke wat toegepas kan word, het Du Pisani gesê. “Begin vroegtydig met byvoeding. Moenie by suipings voer nie. Voer in klein kampies of voerkrape. Voer dragtige diere daagliks, maar voer droë skape twee keer per week. Kyk na jou voerbronne. Gedroogde garingboom kan tot 45% van jou hoeveelheid lusern vervang. Of voer jou diere doringlose turksvymeel of soutbos.”

Prof Beatrice Conradie (ekonomiese be­stuurs­wetenskappe) van die Universiteit van Kaapstad het gesê “droogte is iets wat jou stadig bekruip. As jy ’n Karoo-boer wil wees, moet jy teleurstellings kan hanteer.

Maar dis nie oral in die Karoo ewe droog nie.”

Volgens Hélène Smit van Prins Albert, wat onder meer traumaberading doen, “is klimaats­verandering ’n werklikheid. Oor die afgelope dertig jaar het Prins Albert gemiddeld al twee grade warmer geword. Ons het met ’n nuwe ‘normaliteit’ te doen. Boere is elke dag midde-in hier­die krisis. Julle is aan die ontvangkant van ’n stelsel wat besig is om ineen te stort. Bykomende trauma word veroorsaak omdat julle nie weet wanneer die droogte gaan eindig nie. Julle psige word tot die uiterste getoets. Julle emosies wissel van vrees tot wanhoop tot hulpeloosheid.”

Volgens Smit moet gesinslede op plase bedag wees op mekaar se emosionele welstand, onder meer om op te let na vroeë selfdoodwaarskuwings­tekens. “Dis dan dat julle moet besef intervensie is nodig. Moet nooit te skaam wees om professionele hulp te kry nie.”

’n Opvolgwerksessie, wat verteenwoordigers van die nasionale landboudepartement insluit, word vir Maart volgende jaar beplan.

Log in with your credentials

Forgot your details?