Zimbabwiër kry 7 jaar vir bedrog, geldwassery, diefstal

Deur Garnett Wicomb
’N Zimbabwiese burger (33) wat aan diefstal, bedrog en twee klagtes van geldwassery skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof sewe jaar gevangenisstraf opgelê.

Victor Nare is op 5 November 2015 by ’n bank op Oudtshoorn in hegtenis geneem toe hy probeer het om R180 000 te onttrek en bedrae van onderskeidelik R238 000 en R317 000 na ander persone se rekeninge oor te plaas.

Nare het hom voorgedoen as ene William Singula in wie se rekening SA Express ’n bedrag van R1,1 miljoen betaal het.

Sy regsverteenwoordiger, adv Helmut Scholzel, het die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar omdat dit duidelik is dat dit nie hy was wat voordeel getrek het uit die skema nie.

Die meeste van die geld is aan SA Express terugbetaal.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het van die verdediging verskil en aangevoer dat Nare wel voordeel getrek het.

Dit is duidelik dat hy nie alleen opgetree het nie, maar dat hy ’n leidende rol gespeel het.
Hy het spesiaal vanaf Johannesburg na Oudtshoorn gereis om die geld op slinkse wyse in die hande te probeer kry.

Hy het ook ’n vorige veroordeling verbandhoudend met die misdrywe waaraan hy nou skuldig bevind is.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het met vonnisoplegging gesê Nare het hom skuldig gemaak aan ernstige misdrywe wat vandag te algemeen in die land voorkom.

“Ongelukkkig is die enigste ma­nier om dit te keer direkte gevangenisstraf,” het die landdros gesê.
Hy het egter toegegee dat die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar heeltemal onvanpas sal wees waarna Nare tot sewe jaar gevonnis is.

Die klagtes is vir vonnisdoeleindes saamgeneem en Nare is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?