Woede teen man wat Natasha glo toesluit, aanrand en martel

Fytjie Mei (middel), moeder van Natasha, saam met familielede buite die Oudtshoorn Landdroshof.                          Foto:  Garnett Wicomb

Fytjie Mei (middel), moeder van Natasha, saam met familielede buite die Oudtshoorn Landdroshof. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
HULLE gaan hom “vrek maak” indien hy borgtog kry. Dit is die dreigement van familielede en gemeenskapslede teenoor ’n man wat glo die ma van sy kind vir twee dae toegesluit, gemartel en so ernstig aangerand het dat sy vir haar lewe in die hospitaal veg.

Enver Campher (36), wat van poging tot moord aangekla word, het na bewering vir Natasha Mei (31) in die huis van sy suster in Bongolethu aangehou en ernstig aangerand.

Die mense is ook kwaad vir Campher se suster en vriend in wie se huis in Bongolethu die aanranding plaasgevind het.

“Ons soek nie sulke mense in ons buurt nie,” sê nog ’n vrou wat in die omgewing woon. “Dis Vrouemaand. Hoe slaan jy ’n vrou so?”

Die mense soek ook nie die bewoners van die huis terug in die buurt nie.

Campher het Donderdag vlugtig in die Oudts­hoorn Landdroshof verskyn en hofgangers aan­gegluur toe hy die hofsaal verlaat.

Die familie en gemeenskapslede dreig om die reg in eie hande te neem indien aan Campher borgtog toegestaan word. Volgens Ashley Lewis, ’n ge­meenskapsleier, beplan die familie om met Campher se volgende verskyning ’n plakkaatbetoging teen die toestaan van borgtog voor die hof te hou.
Lewis sê hy en ander lede van die gemeenskap het die huis se deur oopgetrap terwyl die polisie glo buite rondgestaan het.

Natasha se niggie, Elmarencia van Hansen, sê feitlik alles in die huis was met bloed besmeer. Volgens haar het hulle Natasha bebloed en kaal op ’n bed in die kamer aangetref. Die familie en gemeenskapslede beweer dat Campher se suster hom gehelp het om vir die polisie weg te kruip.

Landdros Lorraine Samuels het die saak tot 7 September uitgestel vir ’n borgprofiel van Campher, verdere ondersoek en ’n moontlike borgaansoek. Sy het dit aan Campher gestel dat hy aangekla word van ’n bylae 5-misdryf.

Volgens Natasha se moeder, Fytjie Mei, is haar dogter baie wreed aangerand. Haar gesig was Vrydag nog erg opgeswel en van haar tande is uit. “Dis vreeslik om my kind so te sien,” sê sy.

• Die polisie is verlede Dindag (29 Augustus) na Vuyanistraat ontbied waar die publiek besorgd was oor die slagoffer aangesien niemand die deur wou oopmaak nie. Volgens Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was die verdagte ook in die huis en is hy daar in hegtenis geneem.

Natasha het ernstige gesigsbeserings opgedoen en is steeds in die Oudtshoorn Hospitaal vir behandeling. Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid, was haar toestand Dinsdag stabiel en sterk sy mooi aan.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?