Wind saai verwoesting

 

Joseph van der Colff (63) wys gisteroggend na die dak van sy kinders se huis in Volmoed wat vroegoggend afgewaai is deur erge rukwinde.

Joseph van der Colff (63) wys gisteroggend na die dak van sy kinders se huis in Volmoed wat vroegoggend afgewaai is deur erge rukwinde.

Bo: Die verwoeste dak van die huis. Foto’s: Schalk le Roux

Bo: Die verwoeste dak van die huis. Foto’s: Schalk le Roux

• Wind waai dakke af en laat bome knak

Deur Liesel le Roux
DIE Klein Karoo sal vandag koud wees met ’n verwagte maksimum van 15 grade Celsius nadat ’n kouefront met gepaardgaande sterk winde die gebied gister getref het.

Wind sal na verwagting vandag voortduur, maar minder sterk wees as gister toe rukwinde bome ontwortel en talle huise in veral informele nedersettings verwoes het. Windsnelhede van tussen 45 en 65 km/h met rukwinde van tot 70 km/h het op plekke in die gebied gewaai.

Sneeu wat voorspel is vir die pieke van die Swartberge gisteraand sal ook waarskynlik bydra tot laer temperature vandag.

Die sterk kouefront wat Kaapstad Dinsdagaand bereik het, het swaar reën, rowwe seetoestande en stormwind in die westelike gedeeltes van die Wes-Kaap veroorsaak. Langs die Tuinroete het veldbrande verwoesting gesaai met Knysna wat gis­ter- aand ontruim moes word nadat brande oral op en om die dorp ontstaan het. Teen gisteraand het vier mense reeds langs die Tuinroete gesterf, was paaie versper deur vlamme en rook en het meer as 50 huise na raming reeds afgebrand.

In die Klein Karoo was sterk winde met daar-mee gepaardgaande rukwinde ook die grootste pro­bleem.
In Volmoed het ’n sterk wind gisteroggend tus-sen 05:00 en 06:00 die dak van ’n huis in Hoof-straat 1 naby die Volmoedklipkerk afgeruk.

Joseph van der Colff (63), ’n afgetrede wewenaar wat in dié huis woon wat aan sy dogter Made-lein en die se man, Christo du Preez, behoort, sê hy was nog in die bed toe hy ’n slag hoor.

Toe hy gaan kyk, het hy gesien dat die dak van ’n stoorkamer aan die huis asook ’n gedeelte van die huis deur die wind afgeruk is. In die stoor-kamer was onder meer ’n boot, motors, motorfiet­se en quad bikes.
Toe Die Hoorn gister op die toneel kom, was Van der Colff reeds besig om die inhoud van die huis na sy kinders se huis in Vredestraat, Volmoed, reg langs die kerk te verskuif.

“As dit nou reën, gaan die skade hier baie groter wees,” het hy gesê.
Op Oudtshoorn het die munisipaliteit gister hul hande vol gehad met bome wat in verskeie strate omgewaai is en om inwoners wie se huise erg be-skadig is, te gaan bystaan.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woord­voer­der van die Oudtshoorn Munisipaliteit, is inwoners van Volmoed, Oudtshoorn-dorp, die GG Kamp, die Kanaal, De Rust en ook agterplaas­be­woners van Bridgton deur die munisipaliteit gehelp met boumateriaal nadat die wind erge skade aan hul huise aangerig het.
Verskeie inwoners het ook elektrisiteitspro­ble-me ondervind.

Mangqwengqwe het gesê in ’n stadium moes daar aan sowat 40 klagtes van kragonderbrekings aandag geskenk word, ’n Kragonderbreking in Schoemanshoek en Matjiesrivier is veroorsaak deur bome wat op kragkabels geval het.

Op Ladismith het die wind gister heelwat vroeër as op Oudtshoorn verwoesting begin saai en deur die nag reeds verskeie bome omgewaai. Een van die bome het ’n ruit van Lewis Stores op die dorp beskadig, terwyl Ladismith se verwelkomingsbord langs die pad deur die dorp ook deur die wind opgevou is.

• Alle skole in die Wes-Kaap is vandag weer oop nadat dit gister gesluit was om leerders se veilig­heid te verseker te midde van moontlike storm­weer. Dié besluit is Dinsdag deur Brian Schreuder, hoof van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), aan skole in die provinsie gekommunikeer. Die besluit van Schreuder was een van die voorsorgmaatreëls wat getref is om inwoners se veiligheid te verseker nadat Rampbestuur die Wes-Kaapse kabinet Dinsdag tydens ’n buitengewone vergadering ingelig het oor die slegste situasie wat kan ontstaan weens die voorspelde storms.

• Inwoners word versoek om in die geval van enige noodsituasies die volgende nommers te skakel: Oudtshoorn Munisipaliteit: 0442037800; Eden Distriksmunisipaliteit: 0448055071; Sentraal-Karoo Distriksmnunisipaliteit: 0234142603.

Een van die talle bome wat deur gister se sterk winde omgewaai is, was dié een by Laerskool Van Reede.

Een van die talle bome wat deur gister se sterk winde omgewaai is, was dié een by Laerskool Van Reede.

Al wat oor is van ’n huis wat in Volmoed omgewaai is.

Al wat oor is van ’n huis wat in Volmoed omgewaai is.

Ladismith se verwelkomingsbord.

Ladismith se verwelkomingsbord.

Dié boom in Dr Garischstraat in Ladismith was een van talle wat gister in die vroeë oggendure deur sterk wind ontwortel is.

Dié boom in Dr Garischstraat in Ladismith was een van talle wat gister in die vroeë oggendure deur sterk wind ontwortel is.

Log in with your credentials

Forgot your details?