Wees verantwoordelik met straatname, sê Mooney

Deur Liesel le Roux
HY is bekommerd daaroor dat die Oudtshoorn-raad nie met inwoners gesels het oor die verandering van straatname voordat met voorstelle gekom is nie, sê Poem Mooney van Oudtshoorn namens die Attakwa Huis.

Hy is ook bekommerd daaroor dat inwoners minder as ’n maand voor die KKNK nog geen terugvoer oor ’n openbare deelnameproses van die raad ontvang het nadat hulle op 30 Januarie besluit het om die verandering van Voortrekkerweg se naam na Nelson Mandela Boulevard te oorweeg, hangende so ’n openbare deelnameproses.

Die raad het by die vergadering aangedui hulle wil poog om die nuwe naam tydens die KKNK te ont­hul.

En hy is bekommerd daaroor dat hy nie eens ’n ontvangserkenning gekry het op ’n brief met voorstelle oor straatname wat hy op 2 Februarie namens die Attakwa Huis aan die burgemeester, Colan Sylvester, en speaker, Julia le Roux gestuur het nie.
Mooney het die afgelope week die brief wat hy aan die raadslede gerig het, aan Die Hoorn gegee vir publikasie op ons brieweblad.

“Ons wil hê inwoners moet weet wat die standpunt van die Attakwa KhoiSan Stamhuis is oor die verandering van straatname op Oudts­hoorn. Ons is nie soseer gekant teen die naam Nelson Mandela Boulevard nie, maar ons voel dat daar baie verantwoordelik gekyk moet word na naamsverande­ringe en dat die geskiedenis van die gebied in ag geneem moet word. Dit sal net reg wees as so ’n straatnaam die trotse geskiedenis van die eerste inheemse mense van die gebied weerspieël.”

In die brief word voorgestel dat ’n naam soos Kanna Boulevard meer gepas sal wees vir Voor­trekkerweg, omdat dié straat na die Klein Karoo lei waar dié inheemse kannaplant voorkom, of andersins name soos Attequa Boulevard of Armuda Boulevard na die naam van stamhoof Hans Armuda wie se kraal by die huidige Volmoed was.

Daar word voorts voorgestel dat Baron van Reedestraat terselfdertyd verander word na Kango Boulevard of Swartberg Boulevard omdat dié straat na die Kango Grotte en die Swartberge lei.

• Sylvester het gister in reaksie op Mooney se brief en navrae van Die Hoorn gesê die voorstelle van die Attakwa Huis asook van ander persone sal as deel van die openbare deelnameproses hanteer word. Dié deelnameproses sal beslis gevolg word voordat enige besluit geneem word. Dit sal vooraf in die media geadverteer word en waarskynlik eers na die KKNK volg.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?