Vryheid van Oudtshoorn vir Evita Bezuidenhout

Evita Bezuidenhout.

Evita Bezuidenhout.

DIE Vryheid van Oudtshoorn gaan tydens vanjaar se KKNK aan die Suid-Afrikaanse ikoon en legende Evita Bezuidenhout toegeken word!

Die Groter Oudtshoorn-raad het vanoggend tydens ’n spesiale raadsvergadering ’n aanbeveling aanvaar dat dié eerbewys op 10 April in Baron Van Reedestraat aan Pieter-Dirk Uys, die skepper van die karakter Evita Bezuidenhout, oorhandig sal word.

Evita Bezuidenhout het gedurende die apartheidsjare bekendheid verwerf as die Suid-Afrikaanse Ambassadeur in die Republiek van Bapetikosweti, waartydens sy dikwels skerp kritiek gelewer het op die leiers van die dag. Evita is ook welbekend vir haar bewusmakingsveldtogte oor Vigs.

Evita het by die eerste KKNK in 1995 opgetree en sedertdien verskeie vertonings en optredes by die fees aangebied.

Rhodé Snyman, die uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk (aanbieder van die KKNK), sê in ’n skrywe aan die raad dat Kunste Onbeperk so ’n gebaar van die raad se kant af steun.

“Met Oudtshoorn wat jaarliks as gasheer optree vir een van die grootste kunstefeeste in Suid-Afrika, en wat as dorp aspireer om ’n toonbeeld van vryheid, gelykheid, geregtigheid en geleenthede vir alle Suid-Afrikaners te wees, sou ’n gebaar om die Vryheid van Oudtshoorn aan Evita Bezuidenhout toe te ken, baie gepas wees om hierdie intensies in die kollig te plaas.

“So ’n gebaar vind ook mooi aansluiting by Kunste Onbeperk se verering van Pieter-Dirk Uys as die ontvanger van die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys vanjaar.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?