Vrou kry huisarres vir ontvoering van baba

Die Toekomsrus Kliniek waar die baba ontvoer is.

Die Toekomsrus Kliniek waar die baba ontvoer is.

Deur Garnett Wicomb
DIE vrou wat in Oktober verlede jaar ’n seweweke-oue baba van die Toekomsrus Kliniek na haar eie huis in Bongolethu geneem en voorgegee het dat dit haar eie kind is, is in die Oudtshoorn Streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en onder huisarres geplaas.

Sintie September (22) wat nie ’n baba kon baar nie, maar ’n obsessie gehad het om ’n kind te wil hê, is aan menseroof skuldig bevind.

Sy het erken dat sy vir Leashay Billy, die baba van Myrtle Billy, op 27 Oktober verlede jaar by die kliniek geneem en na haar eie woning in Bongolethu geneem het.

Die ma het die kind die betrokke dag in September se sorg gelaat toe sy met haar seuntjie die kliniek binne is. Toe sy uitkom, was die kind en September weg.
Streeklanddros Daniel Boks het September met vonnisoplegging behoorlik geroskam. “Ontvoering is ’n ernstige misdryf en om vandag te wil voorgee dat u die slagoffer is en nie die kind se ma nie, is onaanvaarbaar,” het die landdros gesê.

Volgens hom was die ouers van die baba geregtig daarop om kwaad te wees. “Enige ouer sal vandag vra dat u tronk toe gestuur moet word.

“Dit is nie dat u nie reg in u kop is nie. Die kind se ma het probleme gekry omdat haar kind weggeraak het en dit is die ouers wat sielkundige behandeling moet kry en nie u nie.”

Die hof het in ag geneem dat September skuldig gepleit het, die kind nog dieselfde dag ongedeerd teruggevind is, sy nie vorige veroordelings het nie en nie uit die dorp probeer vlug het nie.

Volgens die landdros was dit ook die flinke optrede van die polsie met die hulp van die gemeenskap wat gelei het tot die spoedige oplossing van die drama.

Hy het met vonnisoplegging gesê dat direkte tronkstraf in hierdie geval nie van pas sal wees nie en September vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat voorwaardelik in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Sy is ook 24 maande korrektiewe toesig ingevolge Art 276 (1) (h) opgelê met huisarres vir 24 uur per dag vir die volle tydperk behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.

Sy kry vier ure per week vrye tyd en moet sestien uur per maand gemeenskapswerk verrig, haar weerhou van die gebruik van alkoholiese drank en dwelms en nie die landdrosdistrik van Oudtshoorn verlaat sonder die nodige toestemming van Korrektiewe Dienste nie. Sy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?