Vragmotor keer om toe bale skuif

Die groot vragmotor met bale voer daarop het Dinsdag n Meiringspoort omgeslaan toe die vrag om ’n draai geskuif het. Foto: Liesel le Roux

Die groot vragmotor met bale voer daarop het Dinsdag n Meiringspoort omgeslaan toe die vrag om ’n draai geskuif het. Foto: Liesel le Roux

2 Vragmotor

Deur Liesel le Roux
TOE hy die bedrieglike draai net voor Bloupuntdrif in Meiringspoort ingaan, het hy gevoel hoe die vrag voerbale op die vragmotor skuif, sê Herman Groenewald. “Toe het ek geweet die vragmotor gaan omslaan.”

Groenewald was Dinsdag die bestuurder van ’n vragmotor volgelaai met bale voer wat omstreeks 14:00 in Meirinsgpoort omgeslaan het. Die vragmotor was vanaf Kimberley na Riversdal op pad met sy kosbare vrag.

“So iets het nog nooit met my gebeur nie,” het Groenewald oor die ongeluk vertel. Hy het verskeie snymerke aan sy gesig en nek opgedoen asook talle kneusplekke.

Die passasier in die vragmotor, ’n mnr Moore, is egter ernstiger as Groenewald beseer en met ’n klaarblyklik gebreekte sleutelbeen per ambulans hospitaal toe geneem.

Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid in die Eden Distrik, sê Moore is in die Oudtshoorn Hospitaal se noodeenheid vir ’n skouerbesering behandel.

Volgens haar is sy toestand bevredigend.

Verskeie vragmotors het al by dié draai aan die begin van Meiringspoort se ingang vanaf Beaufort-Wes omgeslaan.

’n Sterk rukwind het ook Dinsdag op die ongelukstoneel gewaai.

Twee lesers van Die Hoorn het op ons Facebook-bladsy kommentaar gelewer oor dié draai.
Clinton Clark het geskryf: Ek ry self deur die poort met swaarvoertuie. Die spoed bortjie is vir karre (70), maar daar is geen een vir trokke (40) nie.

Bart Vosloo het as volg geskryf: Die probleem met daardie draai is dat dit “trek”, soos ons dit altyd genoem het. Die draai moet ’n opwaartse helling hê aan die linkerbaan vanaf Klaarstroom. Dit kantel na die draaikant en is veral gevaarlik vir swaarvoertuie. Die padingenieurs sal hierna moet kyk en die hele draai moet herbou; anders gaan daar nog baie groot voertuie omslaan. Selfs met ’n motor kom jy agter hoe gevaarlik die draai “trek”.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?