Voetpaadjies se stene skoonveld

So lyk die eens geplaveide voetpaadjies in die Smartietown-omgewing nou.                              Foto: Schalk le Roux

So lyk die eens geplaveide voetpaadjies in die Smartietown-omgewing nou. Foto: Schalk le Roux

Inwoners vra eerder kos, werk, huise

Deur Liesel le Roux
DIE talle geplaveide voetpaadjies in Bridgton wat ’n paar jaar gelede met regeringsgeld gebou is, is daarmee heen. Al die stene waarmee die voetpaadjies in veral die omgewing van Smartie Town en langs Dassieweg gebou is, is gesteel.

Maar ook die voetpaadjies langs die Toekomsrus Gemeenskapsaal is vervalle en in ander dele is plaveiselstene ook plek-plek uit sypaadjies verwyder.

Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, is die plaveisel van voet­- paadjies en ander opgraderingswerk in Bridgton, Bongulethu en Toe­koms­­rus gedoen met regeringsfondse wat tussen 2009 en 2012 bewillig is vir die verfraaiing van woonbuurte in voorheen benadeelde gebiede. Dit sluit sypaadjies en ook byvoorbeeld die bou van die sirkel by Penny­Pinchers in. (Die fondse staan bekend as ’n Neighbourhood Development Partnership Grant.)

Die verfraaiings was deel van ’n driejaarprojek wat in 2009 begin het. Die koste vir die opgegradering en bou van sypaadjies en voetpaadjies het R35 miljoen beloop.

Oliphant het gevra dat enigiemand met inligting oor die verdwyning van die plaveiselstene dit by die munisipaliteit moet aanmeld.

• “Mense het die steentjies gevat en hul eie erwe daarmee gaan plavei. Daar is ’n man wat dit gevat en dan uit sy erf verkoop het,” beweer John­ny Maarman wat tydens ’n besoek van Die Hoorn aan van die vervalle paadjies, met ons kom gesels het.

“Dis nie iets om oor lekker te voel nie,” sê Sabina Mentoor wat verbygestap kom. “Die munisipaliteit het hul bes probeer om dit beter te maak vir ons as voetgangers. Ek voel nie goed hieroor nie.”

Sarah Fortuin, wat saam met Mentoor verbystap, sê die paadjies is gelê in ’n gemeenskap waar mense werkloos is en nie geld het nie. “Sulke dinge gebeur wanneer daar nie werk is vir die kinders nie. Hulle is ledig. Hulle het die steentjies verkoop vir geld. Ek moet eerlik sê: hier is nie werk nie.”

Mense uit die omgewing sê hoewel die paadjies mooi was, is hul grootste behoef­tes kos, werk, huise en ’n parkie vir die kinders.

Twee mans wat verbystap, Kevin Matroos en Johnny Kammies, sê die behoefte in die gemeenskap is huise, nie voetpaadjies nie. “Die paadjies is eintlik geld mors. Hulle kon eerder huise met daardie geld gebou het. Mense loop ook nie eintlik op die paadjies nie. Hulle loop soos gewoonlik. Die bou van die paadjies was wel werk­skepping, maar behuising is die ergste nood,” sê Kammies.

Die gemeenskap in die omgewing het dit nie maklik nie, sê Helouise May. “Ons kry baie swaar. Ons moet in swartsakke gaan krap vir kos. Baie mense jaag ons weg omdat ons bruinmense is.”

Volgens haar is daar ’n behoefte vir speelplek vir kinders en word die kinders weggejaag as hulle in Smartie Town se parkie wil gaan speel.

’n Bejaarde vrou staan nader. Sy wil nie oor die voetpaadjies praat nie. Sy wil net een ding sê: “Ons wat hier bly, is honger. Ons het nie werk en kos nie.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?