By voetoorgang van bromponie gestamp

Jong vrou breek rugwerwel

’n Beseerde Melanie Janse van Rensburg word Maandag deur mediese personeel behandel kort nadat haar stilstaande bromponie (links op die foto) tydens die middaguur deur ’n voertuig van agter getref is waar sy by ’n voet­oorgang vir ’n voetganger gesit en wag het om oor die pad te stap.  Foto: Ilze-Mari Gründling

’n Beseerde Melanie Janse van Rensburg word Maandag deur mediese personeel behandel kort nadat haar stilstaande bromponie (links op die foto) tydens die middaguur deur ’n voertuig van agter getref is waar sy by ’n voet­oorgang vir ’n voetganger gesit en wag het om oor die pad te stap. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
VOETOORGANGE en motorryers wat dit verontagsaam en nie daar stilhou nie, is vandeesweek in die kollig geplaas toe ’n jong vrou van Oudts­hoorn, Melanie Janse van Rensburg (32), Maandag van haar brom­ponie in Baron van Reedestraat gestamp is.

Christa Young van Oudtshoorn, ’n ooggetuie van die ongeluk, sê Janse van Rensburg het met haar brom­ponie by die voetoorgang voor Gotlandhuis en Nostalgie vir haar (Young) gewag om oor te loop toe die botsing omstreeks 13:10 plaasgevind het.

“Ek het gesien die motor kom van agter af, maar het nie genoeg tyd gehad om haar te waarsku nie. Dit het so vinnig gebeur,” het Young gesê.

Young, ’n dagmoeder, het ’n tweejarige seun by haar gehad en sê sy moes vinnig uit die pad beweeg.

’n Geskokte Janse van Rensburg is op die toneel deur nooddienspersoneel behandel en na die Oudtshoorn Hospitaal gebring.

Sy het volgens haar suster, Lynette Osborne, ’n gebreekte been in haar rugwerwel en verskeie kneusplekke opgedoen. Janse van Rensburg se ma, Petro van Zyl, sê sy is dank­baar haar dogter kan nog beweeg, al het sy baie seergekry.

“Ons is baie dankbaar dat sy nie ernstiger beseer is nie. Hoewel sy weens die pyn lank nie regop sal kan sit of staan nie, kan sy wel beweeg. Dit gaan lank vat om te herstel.”

Janse van Rensburg is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by die huis aan.

Verskeie inwoners het vandeesweek hul kommer uitgespreek oor voetoorgange wat deur motorryers verontagsaam word.

Gaetano Cassara het op Die Hoorn se Face­­book-blad geskryf: “Die kern van die probleem is dat die meeste mense op die dorp wat in Baron van Reedestraat op en af ry nie besef dat daardie twee sebra-voetkruisings oor die pad (by Little Bo Peep en Nostalgie/Tuishuis) vir ’n rede daar is nie. Ek moet skat dat 5% van voertuie stop en mense ’n kans gee om oor te stap. Die ironie is dat die enigste voer­tuig wat ek al gesien stop het, toe­riste was wat bestuur het.

“Moet ’n mens helder flikkerende rooi ligte opsit in albei rigtings sodat daar besef word dat die padreëls is dat voertuie daar moet stop as voetgangers op zebra-strepe wil oorstap?”

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, ondersoek die Polisie geen saak nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?