Vlamme saai verwoesting in Swartberge

HuisieBrand

HAAR stukkie hemel is nou ’n maanlandskap. En sy besef dat haar gaste­plaas nooit weer in haar leeftyd tot sy vroeëre glorie sal kan herstel nie.

Maggie Fourie, eienaar van die Ou­demuragie Gasteplaas naby De Rust is een van die baie grond­eienaars in die omgewing tussen die Rust-en-Vredewaterval en Meiringspoort wat mas­siewe skade gely het toe ’n verwoestende brand alles in die gebied voor dit platgevee het.

Die brand is die ergste in dié omge­wing in menseheugenis, sê een ná die ander persoon aan Die Hoorn. Hulle vertel van landerye, weiding, en ’n wild­kamp wat onder meer afgebrand het, wilde diere wat verbrand het, terwyl heinings, pompe, waterpype en selfs vyf vakansie­huise verwoes is.

Die brand het op 14 Desember by die Rust-en-Vredewaterval sowat 10 km van die Oudemuragie Gasteplaas uitgebreek en is eers op 30 Desember geblus toe ’n reënbui uitgesak het.

Dié reënbui het roet in die damme en riviere laat beland en die pyplei-ding wat De Rust van water voorsien, verstop. Dit was ’n tweede krisis met almal skielik sonder drinkwater.

Pieter Schoeman, bekende boer van De Rust, sê dit is die eerste keer dat die hele Swartberg afbrand van naby die Kango Grotte tot by Mei-ringspoort. “Ek is nou 60 jaar oud en in 60 jaar het die berg nog nie so gebrand nie.”

Barry Meijer van Meijersrust sê sy hele plaas is basies deur die brand verwoes – al sy landerye, al sy infrastruktuur, die kampeerterrein vir vakansiegangers, en selfs vyf vakansiehuise wat mense daar gebou het.

“Ek dink nie mense het enige idee hoe groot die skade hier is nie.”

Meijer sê die vlamme was so warm dat staal gebuig het. Hy vermoed dat baie diere soos slange en ratels sommer in die gate waar hulle gaan wegkruip het, doodgebrand het.

“Dit is so ’n natuurskone omge­wing wat vir inwoners ’n belangrike inkomste uit toerisme gebring het. Dit is nou daarmee heen.” Meijer sê die brand is sowat 500 meter van sy woonhuis geblus.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?