Vier sterf in twee botsings

Die blou Ford Laser waarmee Johannes (Bobby) Plaatjies (regs) gery het, en die wit motor waarteen dit gebots het links agter.    Foto: Liesel le Roux

Die blou Ford Laser waarmee Johannes (Bobby) Plaatjies (foto onder) gery het, en die wit motor waarteen dit gebots het links agter. Foto: Liesel le Roux

1 Plaatjiesgecrop

Deur Liesel le Roux
’N BEKENDE en geliefde petroljoggie van Oudts­hoorn, Johannes (Bobby) Plaatjies (50), het verlede Vrydag gesterf in ’n botsing tussen drie voertuie op die R328 (Mosselbaai-pad) net buite Oudtshoorn.
Hy was een van vier mense wat in twee ongelukke die naweek op dié pad gesterf het. Drie mense is Saterdag dood in ’n ongeluk waarin ’n taxi omgeslaan het.

Plaatjies, wat by Total Swartberg in Baron van Ree­destraat gewerk het, was Vrydag omstreeks 14:00 in ’n blou Ford Laser op pad van Volmoed na Oudtshoorn toe die botsing plaasgevind het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing plaasgevind toe ’n motor uit die De Zeekoe-pad in die R328 ingedraai het in die rigting van Mosselbaai. Dié motor is getref deur ’n bakkie wat ook in die rigting van Mosselbaai gery het en het voor Plaatjies se Ford Laser beland. Die twee motors het mekaar reg van voor getref.

Plaatjies word oorleef deur sy vrou, Jacky, en twee kinders, Jodie-Ann (12) en Jayzeen (6).
“Hy was ’n goeie mens, maar die woord goed klink nie goed genoeg nie,” het Jacky Dinsdag oor haar man gesê. “Hy was ’n goeie pa en ’n groot steunpilaar vir sy kinders. Hulle gaan hom baie mis.”
Dawie Botha van Swartberg Total het Plaatjies bestempel as een van die beste werkers by Swartberg Total, terwyl Barry Horne op Die Hoorn se Facebookbladsy geskryf het: “Hy was ’n baie saggeaarde persoon wat altyd baie behulpsaam was. Ons sal hom altyd onthou vir sy verdraag­saamheid en goeie gesindheid teenoor sy medemens.”

Een van die bestuurders van die ander voertuie is in die Oudtshoorn Hospitaal behandel. Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, is die man na die ongeluk in die noodeenheid van die Oudtshoorn Hospitaal behandel, maar die aand reeds ontslaan. Die ander bestuurder was na verneem word, ongedeerd.

Volgens omstaanders was ’n kind wat in een van die voertuie was, ook onge­deerd.

Kapt Visser het aangedui dat die polisie ’n klagte van strafbare manslag ondersoek.
• Plaatjies word Saterdag om 10:00 uit die Volkskerk begrawe. Die diens by die huis in Kalinkastraat, Rosebank is om 09:00.

Log in with your credentials

Forgot your details?