Vermeende moordenaar laat vaar borgaansoek

Barbara Owen, gemeenskapsleier van Blomnek, De Rust, oorhandig die versoekskrif aan die ondersoekbeampte, sers Alicia Willard. Foto: Garnett Wicomb

Barbara Owen, gemeenskapsleier van Blomnek, De Rust, oorhandig die versoekskrif aan die ondersoekbeampte, sers Alicia Willard. Foto: Garnett Wicomb


Deur Garnett Wicomb
FAMILIELEDE van die vermoorde Deidri Opperman (16) en gemeenskapslede van Blomnek, De Rust, het vanoggend ‘n vreedsame plakkaatbetoging voor die Oudtshoorn Landdroshof gehou om hul teenkanting te toon teen die toestaan van borgtog aan die man wat daarvan aangekla word dat hy Opperman wreed vermoor en aan die brand gesteek het.

Hulle het ‘n versoekskrif aan die ondersoekbeampte, sers Alicia Willard, oorhandig waarin gevra word dat borgtog nie aan die 28-jarige Clifton Booysen van De Rust, toegestaan moet word nie.

“Die dood van Deidri Opperman het die gemeenskap in rou gelaat,” sê Barbara Owen, gemeenskapsleier van De Rust.

In die versoekskrif vra die gemeenskap lewenslange gevangenisstraf vir Booysen. In ons gemeenskap het al reeds te veel moorde plaasgevind. Ons sê genoeg is genoeg en die tyd het aangebreek dat die gemeenskap van De Rust moet opstaan teen vroue- en kindergeweld, lui die versoekskrif.

Booysen het sy borgaansoek in ‘n stampvol hof laat vaar.

Opperman se verkoolde lyk is op Maandag 4 September in die veld gevind nadat sy nie die Saterdagaand van ‘n partytjie by vriende huis toe gekom het nie.
Landdros Roelf Konstabel het die saak vir verdere ondersoek tot 3 November uitgestel.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?