Van Newcastle tot Nelspruit vir 9de Klassique

Vanjaar se Klein Karoo Klassique skop af met 'n konsert deur die bekroonde kitaarduo CH2.

Vanjaar se Klein Karoo Klassique skop af met ‘n konsert deur die bekroonde kitaarduo CH2.


Deur Liesel le Roux
VANJAAR se Klein Karoo Klassique wat Vrydag op Oudtshoorn begin, spog met goeie kaartjieverkope, ’n toeganklike program en ’n nuwe, groter venue wat dit vir meer mense moontlik maak om vanjaar konserte by te woon.

Die Klein Karoo Klassique, Oudts­hoorn se klassieke musiekfees, se konserte vind die naweek in die historiese NG Moederkerk op die dorp plaas en in Die Windpomp, ’n restaurant-teater langsaan.

Volgens Rhodé Snyman, uitvoe­ren­de hoof van Kunste Onbeperk – die aanbieder van Klein Karoo Klassique, gaan dit goed met kaartjie­verkope maar is daar nog kaartjies vir al die vertonings beskikbaar. Teen Maandag was 2 431 kaartjies verkoop, reeds meer as die totale kaartjieverkope in 2016.

Snyman sê vanjaar se program slaag uitstekend daarin om klassieke musiek toeganklik te maak vir gehore. “Ek kan nie wag om te hoor hoe Bach, Beethoven en Vivaldi se musiek vars aangebied word deur CH2, Charl du Plessis en Zanta Hof­meyr en deur Petrus de Beer, Stani­slav Angelov en Schalk Joubert nie.”

Snyman sê daar gaan vanjaar verskeie hoogtepunte wees. “Ek is opgewonde oor die feit dat Hendrik Hofmeyr self ’n paar note gaan speel en dat ons vir die eerste keer ’n kombinasie van tjello en harp gaan hê. Ek sien ook uit na die optredes deur jong jazz-musici en ATKV-wenners, waar­onder ons eie Sulayman Human.”

Volgens Snyman kom die gehore van naby en ver – Oudtshoorn en el­ders uit die Suid-Kaap, maar ook uit Stellenbosch, Somerset-Wes en Kaap­stad, uit die Oos-Kaap vanaf Port Elizabeth en Jeffreysbaai, en selfs van so ver as Nelspruit, Mogale City, Edenvale en Newcastle.

• Die agt konserte is die kitaarduo CH2 se CH2 in Konsert (Vrydag, 18:00, Moederkerk), An Evening of Jazz met Suid-Afrikaanse en klas­sieke jazz (Vrydag, 21:00 Die Windpomp), Vivaldi se Vier Seisoene her­- besoek (Saterdag, 09:30, Moeder­kerk), Folk Baroque met Camerata Tinta Barocca (Saterdag, 11:30, Moe­derkerk), Alleenstryd: Hendrik Hof­meyr Huldigingskonsert (Saterdag, 15:00, Moederkerk), Carmen – in die kleine, ’n konsertweergawe van die gewilde opera (Saterdag, 18:00, Moe­derkerk), ’n Aand met Sulayman Human (Saterdag, 21:00, Die Windpomp), Spieël-dans in die maanlig – harp en tjello (Sondag, 09:30, Moe­derkerk), Beethoven Tango met Zanta Hofmeyr (viool) en Charl du Plessis (klavier) (Sondag, 11:30, Moeder­kerk) en ATKV Afsluitingskonsert met Suid-Afrika se jong klassieke talent (Sondag, 14:30, Moederkerk)

• Program by klassique.co.za

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?