Twee verdagtes weer op 10 Januarie in hof

‘Nuwe feite’ aan lig oor moord op Preston Titus

Sixabiso Klip (23), een van die verdagtes wat in die Preston Titus-moordsaak in die hof verskyn het. Foto: Facebook

Sixabiso Klip (23), een van die verdagtes wat in die Preston Titus-moordsaak in die hof verskyn het. Foto: Facebook

Deur Garnett Wicomb
DIE twee verdagtes in die Preston Titus-moordsaak sal weer op 10 Januarie 2018 in die hof op
Oudtshoorn verskyn.

Titus (47), ’n stafsersant by die Oudts hoorn Infanterieskool, is op 1 Desember in sy slaapkamer
vermoor. Sy lyk met verskeie steekwonde is omstreeks middernag gevind.

Sixabiso Klip (23) van Bongolethu, Oudtshoorn en Justice Mooi (30) van Port Elizabeth het saam
Maandag in ’n stampvol landdroshof verskyn. Klip se saak is tydens die hofsitting uitgestel, maar
Mooi moes wag tot ’n verdere hofverskyning Dinsdag om regshulp te kry waarna die saak teen
hom ook tot dieselfde datum uitgestel is.

Die staatsaanklaer, adv Goodman Jaxa, het die hof Maandag meegedeel dat die verdediging uit –
stel versoek omdat sekere nuwe feite aan die lig gekom het. Daar is nie daaroor uitgebrei nie.

Klip se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo wat in opdrag van Avontuur en Genote verskyn,
het dit bevestig en gevra dat die borgaansoek in belang van geregtigheid uitgestel word.

“Die staat en die verdediging was oop met mekaar en stem saam dat dit in belang van geregtigheid is om die borgaansoek uit te stel,” het Metembo gesê.

Volgens hom is dokumente, waaroor daar nie in die hof uitgewy is nie, tussen die staat en die
verdediging uitgeruil en word tyd benodig om verdere instruksies van die beskuldigde te bekom.

Die saak wat vir 11:00 geskeduleer was, het eers na 12:00 begin met landddros Roelf Konstabel wat
wou weet wat tot die vertraging aanleiding gegee het. Hy het die verduideliking van die staatsaanklaer
aanvaar.

Streng sekuriteitsmaatreëls het by die hof gegeld met ’n sterk polisieteenwoordigheid by die hofsaal.

Slegs 40 mense is in die hofsaal toegelaat.

Log in with your credentials

Forgot your details?