Twee van hier postuum vereer

Lizzy Oliphant Vrydag saam met pres Jacob Zuma.

Lizzy Oliphant Vrydag saam met pres Jacob Zuma.

Nombeko Grootboom en pres Jacob Zuma. Foto’s verskaf

Nombeko Grootboom en pres Jacob Zuma. Foto’s verskaf

Orde van Luthuli aan Reggie Oliphant en Spi Grootboom 

Deur Garnett Wicomb
TWEE ontslape anti-apartheidsaktiviste van Oudts­hoorn, David Mbulelo “Spi” Grootboom en Reginald “Reggie” Oliphant, was onder die 49 mense wat Vrydagaand in Pretoria met orde­toekennings deur pres Jacob Zuma vereer is.

Grootboom en Oliphant is vereer vir hul onbaatsugtige bydrae tot die stryd teen sosiale ongereg-tigheid teen bruin- en swartmense in Suid-Afrika en die rol wat hulle in die stryd teen apartheid gespeel het. Albei is met die Orde van Luthuli (silwer) vereer.

Grootboom was ’n gemeenskapsleier en stigter van die destydse Bongolethu Jeugorganisasie, ’n anti-apartheidsorganisasie wat die nemesis van die plaaslike Veiligheidstak van die polisie geword het. Dit het die stem geword vir die mense van Bongolethu wat van behoorlike munisipale dienste ontneem is.
Hy was instrumenteel om gemeenskapsstrukture van Bongolethu en Bridgton te verenig om saam te staan in die stryd teen apartheid. Grootboom en Oliphant was in 1983 ook van die stigters van die drietalige gemeenskapskoerant Saamstaan.

Grootboom, wat aan die Universiteit van Wes-Kaapland gegradueer het, het later aanbiedinge om as burgemeester van Oudtshoorn te dien van die hand gewys.

Hy het by verskillende nie-regerings­organisasies in die Wes-Kaap gewerk voordat hy by die provinsiale departement van maatskaplike dienste aangesluit het.
Hy is in Augustus 2014 oorlede.

Oliphant was ’n onderwyser van beroep en het sy loopbaan op die spel geplaas toe hy begin het om teen die Oudtshoorn Munisipaliteit op te staan. Dit het gelei tot voortdurende teistering deur die destydse Veiligheidspolisie en hy is dikwels aangehou.

Dit het ook daartoe gelei dat hy later na ’n plaasskool op Kenhardt verplaas is, weg van sy gesin. Hy het kort daarna die onderwys verlaat, teruggekeer na Oudts­hoorn en voortgegaan met sy poli­- tieke aktivisme.

Oliphant was saam met Grootboom en ander tydgenote instrumen­teel in die stigting van die destydse United Democratic Front (UDF) en het talle nasionale leiers van die anti-apartheidstryd na Oudtshoorn gebring.

Nadat die ANC in 1990 ontban is, is hy tot voorsitter van die Oudts­hoorn-tak verkies. Ná die algemene verkiesing van 1994 is hy tot parle-mentslid verkies waar hy op twee portufeuljekomitees gedien het.
Hy is in Maart 2003 ná ’n besoek aan familielede in Mitchellsplein deur bendelede doodgeskiet. Vier mans is later in hegtenis geneem, skuldig bevind en gevonnis.

Oliphant se eggenoot, Lizzy, het Vrydagaand se gebeure as een van die grootste oomblikke in haar en haar kinders se lewens beskryf.

“Ons is so dankbaar teenoor die Here dat ons die geleentheid kon bywoon. Dit het die pyn van dit wat ons in die verlede moes deurmaak, die moeite werd gemaak. Reggie was baie lief vir die ANC, sy land, Oudts­hoorn en sy gemeenskap. Ek en my kinders wil veral dankie sê vir die leierskap van die ANC vir hul besluit en bystand.

“Dankie ook aan Oudtshoorn se gemeenskap, Reggie se kamerade en kollegas wat saam met hom die pad gestap het om die land en die dorp na vryheid te help lei. Ek hoop dat hier­die toekenning ’n samebindende faktor in veral ons dorp sal wees.”

Oudtshoorn se burgemeester, ­Co­lan Sylvester, het ook erkenning gegee aan Oliphant en Grootboom en hul families geluk gewens. “Hierdie ordetoekennings het nie net groot waarde vir die ontvangers en hul families nie, maar wys ook op die rol wat Oudtshoorniete in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?