Tronkstraf vir jonge wat inbreek en duur items steel

Deur Garnett Wicomb
’N 19-JARIGE man van Warmbad naby Calitzdorp wat op drie aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof vir vier jaar tronk toe gestuur.

Charlton Jullies het op 21 April vanjaar by die woning van Gerhardus Meyer ingebreek en waar­devolle items ter waarde van R81 900 gesteel.

Daaronder tel ’n goue nek- en armketting, ’n goue horlosie, duur knipmesse,’n sporthorlosie, bier en wyn.
Die volgende dag het hy by die huis van Johan Saayman op Buffelsjachtfontein ingebreek en daar goedere ter waarde van meer as R66 000 gesteel.

Hieronder was ’n paar duursame verkykers, ’n hommeltuig, ’n bottel Remy Martin-konjak asook sagteware vir die hommeltuig.
Hy het dieselfde dag by die huis van Hennie Terblanche op Warmbad ingebreek, maar is op die toneel deur die polisie betrap.

Streeklanddros Retha Pretorius het met vonnis­oplegging gesê huisbrake en diefstal kom algemeen in die hof se bedieningsgebied voor en dat skuldiges nie ligtelik gestraf kan word nie.

“Hulle rig groot skade aan hul slagoffers se wonings aan,”het sy gesê.

Die totale waarde van die gesteelde items beloop altesame R150000 en slegs een daarvan is teruggevind.

Die landdros het nietemin in ag geneem dat Jullies skuldig gepleit en sy volle samewerking gegee het.

Hy is ook deur haar onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Log in with your credentials

Forgot your details?