Trauma oor vyf mans met kapmesse

2 kapmesse

Die stukkende ruit links en die kapmerke in die deur regs wys hoe ’n huis in Bridgton verwoes is deur mense wat ’n inwoner met kapmesse aangeval het.        Foto’s: Ilze-Mari Gründling

Die stukkende ruit links en die kapmerke in die deur regs wys hoe ’n huis in Bridgton verwoes is deur mense wat ’n inwoner met kapmesse aangeval het. Foto’s: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
INWONERS van ’n huis in Zebraweg in Bridgton is die naweek getraumatiseerd gelaat nadat vyf mans na bewering een van die inwoners – ’n 20-jarige man – huis toe gevolg het en hulle almal met kapmesse en Amerikaanse veghonde gedreig het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die 20-jarige man deur vyf mans tot in sy huis gejaag. Visser sê die mans het na bewering deure met die kapmesse stukkend gekap en vensters gebreek.

Die 20-jarige man se naam word weens veiligheidsredes weerhou.

Hy het vandeesweek aan Die Hoorn vertel hy was Saterdagaand kort voor middernag op pad huis toe toe hy die mans in Zebraweg gewaar het.

“Daar was vier mans, elkeen met ’n hond by hulle. Hulle het op so ’n manier geloop dat ek deur hulle moes loop. Hulle wou my besteel. Nog ’n man, ’n rasta, het my van agter gegryp en ’n kapmes teen my keel gehou. Ek het teen hom baklei en huis toe gehardloop.”

Hy vertel dat die mans hom huis toe gevolg het en twee van die honde op hom losgelaat het.
“Ek het almal wat buite was, binne toe gejaag en die deur toegegooi. Toe die mans nie in die huis kon inkom nie, het hulle teen die deur gekap en vensters uitgeslaan. Een het gesê dat hy dit nie daar sal los nie, en dat hy sal terugkom.”

Naomi Claassen wie se broer, Elricko Mei, ook in die huis woon, sê dat Elricko uitgehardloop het om die mans weg te jaag.

Toe Elricko buite kom het hy volgens haar een van die kapmesse gegryp terwyl die mans hom probeer aanval het, en is hy beseer.

“Sy hande is gesny,” het sy gesê.

“Daar woon ook iemand met ’n pap baba in die huis. En my ma wat ook daar woon, is ’n pensioenaris, diabeet en het hartprobleme. Zebraweg het nooit voorheen sulke probleme gehad nie.”

Naomi was die week ook ontsteld omdat die polisie eers na meer as ’n uur opgedaag het.

“Die ergste is dat ons twee keer die polisie moes bel. Die bure het ook die polisie gebel. Teen die tyd dat hulle opgedaag het, was die mans weg. Ons het nog op die foon gesê: ‘Hoor hoe kap hulle’.”

Kapt Visser het gesê indien die die inwoners ontevrede is met die reaksie van die polisie, moet hulle ’n klagte oor die voorval by die stasiekommissaris gaan indien.

Hy het gevra dat mense seker moet maak hulle bel die noodnommer 112 van selfone af en nie 10111, die nommer vir landlyne nie. Oproepe na 1011 vanaf selfone kom nie by die polisie uit nie.

• Die polisie ondersoek ’n saak van opsetlike saakbeskadiging in verband met Saterdagaand se voorval. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?