Tragedie toe jong meisie in flitsvloed sterf

Desiree Pietersen. Foto: Prince Albert BeadkidZ (Facebook)

Desiree Pietersen. Foto: Prince Albert BeadkidZ (Facebook)

Die 19-jarige Desiree Pietersen van Prins Albert wat gesterf het nadat sy Sondag deur vloedwater op die R407 meegesleur is, was een van die dorp se BeadkidZ.

Die Prins Albert BeadkidZ is ’n nie-winsgewende organisasie wat jongmense die geleentheid bied om juwele en ander produkte van kralewerk te maak en daarmee ’n inkomste te verdien.

Desiree se liggaam is Dinsdagoggend omstreeks 10:00 deur ’n polisiereddingshond en sy hateerder gevind nadat ’n soektog na haar Maandag niks opgelewer het nie.

Desiree was volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, een van vier insittendes van ’n Ford Sierra wat sowat 15 km buite Prins Albert op die Klaarstroom-Prins Albert-pad deur ’n watervloed vasgevang is. Die voertuig se enjin het gestol toe dit nat geword het.

Die vier het uitgeklim om te probeer wegkom na veiligheid. Desiree en ’n man is volgens Pojie meegesleur, en later van mekaar deur die geweld van die water geskei. Hy en die twee ander insittendes kon daarin slaag om veiligheid te bereik.

Die flitsvloed is veroorsaak deur ’n hewige donderstorm wat die gebied om Prins Albert en Klaarstroom Sondagmiddag getref het en erge oorstromings en skade veroorsaak het.

Die munisipale bestuurder van Prins Albert, Heinrich Mettler, het namens die munisipaliteit sy simpatie betuig met Desiree se familie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?