Toegesluit en beroof op R62

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Calitzdorp Polisie ondersoek ’n klagte van gewapende roof nadat ’n man op die R62 tussen Oudtshoorn en Calitzdorp beroof en in sy wit Nissan-paneelwa toegesluit is.
Hy is eers ure later deur ’n verbyganger bevry.

Die man, ’n verkoopsverteen­woor­­diger van Areana Importers in Johannesburg wat in die gebied tussen Kaapstad en Port Elizabeth werk, was van Oudts­hoorn na Kaapstad onderweg.
Sy firma verkies dat hy nie geïdentifiseer word nie.

Kapt Anna May, stasiebevelvoer­der van die Calitzdorp Polisie, sê die man was verlede Vrydag omstreeks 08:12 op die R62 onderweg toe hy agtergekom het dat die voertuig ’n pap wiel het.
“Terwyl hy besig was om die nood­wiel uit te haal, het ’n wit Che­vrolet-bakkie met ’n kappie agter hom gestop. ’n Maer, bruin man het hom genader en gevra wat gebeur het.”

Volgens May het die verkoops­ver­teenwoordiger die man ingelig oor die pap wiel, waarop laasgenoemde ’n vuur­wapen gaan haal het, dit op hom gerig het en hom beveel het om voor hom te kyk.
May sê twee ander bruin mans het ook vanuit die bakkie geklim en hier­­na ’n verskeidenheid goedere uit die paneelwa geneem.

Dit sluit in ’n skoolsak met klere, R44 000 kontant, drie selfone, ’n groot handsak, kartondose met sigare, lugverfrisser, lekkers, sigaretaan­stekers, wet wipes, en kougom.

Die verkoopsverteenwoordiger is hier­na beveel om agterin die paneel­wa te klim, waarna die deur van buite gesluit is en die mans met die sleutels weggery het.
Volgens May is die sleutels ’n wit NV200 met die registrasienommer DP 90 ZL GP.

Log in with your credentials

Forgot your details?