Talle Klein Karoo-boere op hul knieë

• 30 volstruisprodusente hou op boer
• 40 volstruisplase gederegistreer

’n Skenking van strooi vanuit die Overberg is van die enkele skenkings van voedselhulp wat boere in die Klein Karoo ontvang het. Foto verskaf

’n Skenking van strooi vanuit die Overberg is van die enkele skenkings van voedselhulp wat boere in die Klein Karoo ontvang het. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
WAT bestempel word as die ergste droogte in dekades het saam met swak pryse vir volstruisprodukte en die uitbreek van die hoog patogeniese H5N8 Avian Influenza baie boere in die Klein Karoo op hul knieë.

Volgens Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo, het 30 vol­struis­produsente die afgelope jaar opgehou om met volstruise te boer, terwyl sowat 40 volstruisplase in die tydperk gederegistreer is.
“As daar net verligting kan kom met een van hierdie drie goed – as die droogte byvoorbeeld gebreek kan word – sal almal weer positief raak,” sê hy.

Potgieter sê hoewel boerderye verskil, moet landbouprodusente steeds ten tye van ’n droogte produseer om kontantvloei te bewerkstellig sodat die boerdery kan aangaan. In die verlede het volstruise dit in ’n mate bewerkstellig, maar met die swak volstruisprodukpryse en Avian Infuenza is dit tans baie moeilik.

Hy sê party boere moet volstruise teen ’n verlies slag as gevolg van die koste om die volstruise vir langer tyd­perke te voer nadat ’n plaas onder kwarantyn geplaas is as gevolg van Avian Influenza.

Volstruise mag nie van ’n plaas na die slagpale vervoer word terwyl die plaas onder kwarantyn is nie.
“Ook die produksie van volstruis­eiers is radikaal beïnvloed omdat die toetse vir Avian Influenza binne die seisoen gedoen is.”

Potgieter sê met die droogte het lusernproduksie in die Klein Karoo tot stilstand gekom.

“Lusernproduksie het in die ver­le­de daartoe bygedra dat die produksiekoste van volstruise relatief laag gehou word sodat boere darem ’n mate van wins kon maak. Maar nou word daar nie meer lusern geproduseer nie, en ook nie alternatiewe ge-wasse soos hawer of gars nie.”

Potgieter glo egter dat die reën wat dié week geval het en verdere goeie reën binne die volgende maand wel nog lusernsaadproduksie kan red.

“Oudtshoorn self ervaar nog nie die droogte so erg nie omdat taamlike goeie reën die laaste ruk in die opvangsgebied van die dorp se water­opgaardam geval het.

“Maar ek dink besighede begin al die invloed van die droogte op landbou voel – veral besighede gemik op produkverskaffing en produkver­werking.”

Wat droogtehulp betref, sê Potgie­ter dat enkele skenkings van voer, strooi en mielies ontvang is asook hulp van Agri Wes-Kaap met die verspreiding van die voer. Die Departement Landbou het ook al ’n bydrae gelewer.

Die nood vir voer is egter baie groot.

“Daar is elders in die land voer beskikbaar, maar dit is baie duur om dit hier te kry weens die koste van vervoer en brandstof. En omdat boere hier werklik sukkel met ’n kontant-vloeiprobleem kan hulle net noodvoorraad koop.”

Maar hy is nie moedeloos nie, sê Potgieter.

“’n Boer hoop altyd en ons bly glo,” voeg hy by.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?