Swartbergpas ’n prioriteitsprojek, sê Grant

Regs:  Raadslid Linda Jaquet, onderburgemeester van Prins Albert, het Maandag die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, Donald Grant, op die dorp verwelkom. Grant het met inwo­ners van die dorp oor die beplande werk aan die Swartbergpas gesels.  Foto: Marlene Malan

Regs: Raadslid Linda Jaquet, onderburgemeester van Prins Albert, het Maandag die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, Donald Grant, op die dorp verwelkom. Grant het met inwo­ners van die dorp oor die beplande werk aan die Swartbergpas gesels. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
Die Swartbergpas is “die gans wat die goue eiers lê” vir Prins Albert. Daarom het die Wes-Kaapse regering die herstelprojek – ná die wolkbreuk en flitsvloed verlede maand – geprioritiseer.

So het die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, Donald Grant, Maandag aan Prins Alberters gesê toe hy die dorp besoek het om hulle oor die beplanning van die herstelprojek in te lig. Die geraamde bedrag van tussen R25 miljoen en R30 miljoen vir die herstel­werk kom uit sy departement se sak “omdat ons besef ’n tenderproses kan te lank duur”.

“Dis ’n departementele projek, en ons sal die diens­verskaffers aanwys. Op dié manier kan ons so gou moontlik begin.”

Grant het gesê dit gaan sowat tien maande duur voordat die pad weer gebruik kan word, ná die aanvang van herstelwerk. Die hele projek sal vyftien maande duur. “Ek besef die skade het ’n uiters negatiewe invloed op jul toerisme en ekonomie.”

Sy departement het dus binne dae ná die vloed verslae saamgestel om die omvang van die skade te bepaal. “Ons het besluit om nie vir die werk te laat tender nie, want ’n tenderproses duur te lank. My departement betaal dit self. Ons het die hulpbronne en wil so vinnig moontlik daarmee begin en dit afhandel.”

Die projek is op 13 April as noodherstelwerk geprioritiseer en werk begin sodra Erfenis Wes-Kaap se finale verslag ingedien word. ’n Aansoek vir die herstelwerk is op 9 Mei by dié liggaam ingedien, wat 30 dae het om dit te oorweeg.

Volgens Grant is die Swartbergpas ’n nasionale erfenisgebied met historiese en omgewingsensitiewe waarde. Daar moet dus nougeset te werk gegaan word om die status van die terrein te be­hou, met die minimum impak op die omgewing.

Samewerking tussen verskillende instellings is noodsaaklik vir die beplanning en duur van die werk, het Grant gesê. Die ander betrokkenes is die departement vervoer en openbare werke, die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit, die de­parte­ment omgewingsake, die departement water en sanitasie en die Prins Albert Kultuurstigting. Grant het gevra dat ’n aksiekomitee uit Prins Albert saam­gestel word onder leiding van die onderburgemeester, Linda Jaquet, om die vordering van die herstelwerk dop te hou en insette te lewer.

Klimaatverandering en gepaardgaande “hoë-intensiteit-storms” is ’n al hoe groter werklikheid, volgens hom. “ ’n Deel van die pad is gebou waar die rivier gevloei het. Daarom moet ons versigtig wees oor hoe ons die projek aanpak.”

Van die Prins Alberters wat die vergadering bygewoon het, voel dat die boustyl van die pad gemoderniseer moet word, soos die Meirings­poort-pad. Ander voel weer die historiese boustyl moet herhaal word wanneer die verwoeste sowat 2,4 km tussen Malvadraai en die Dorpsrivier aan die noordekant van die pas herstel word. Kommer is ook uitgespreek dat ’n volgende moontlike storm en flitsvloed die skade gaan herhaal.

Volgens Grant sal hy samesprekings hou met CapeNature oor die projek. “Die herstel van die pad is krities vir Prins Albert se gasvryheidsbedryf. Dis waarom ons die werk as noodgeval geklassifiseer het.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?