Suster van Enver Campher en vriend in spervuur

Bo: Natasha Mei  in ’n rolstoel saam met familie. Heel inks is haar moeder, Fytjie Mei.  Regs: Ashley Campher. Foto’s: Garnett Wicomb

Bo: Natasha Mei in ’n rolstoel saam met familie. Heel inks is haar moeder, Fytjie Mei.
Onder: Ashley Campher. Foto’s: Garnett Wicomb

9 Ashley Campher

Deur Garnett Wicomb
“EK het om hulp geroep, maar niemand het my kom help nie. Want by ons in die straat is dit elk­een vir homself en God vir ons almal.”

So het Ashley Campher (33), die suster van Enver Campher wat daarvan aangekla word dat hy die ma van sy kind gyselaar gehou en aangerand het, Maandag in die Oudtshoorn Streekhof op vrae van die landdros geantwoord.

Streeklanddros Retha Pretorius wou van Ashley Campher weet waarom sy en haar vriend, Hermanus Jullies, nie die erg beseerde Natasha Mei (31) gehelp het nie.

Enver Campher staan tereg op klagtes van menseroof en poging tot moord, Hy het na bewering vir Mei langer as drie dae in ’n slaapkamer in die huis van sy suster toegesluit en aangerand.

Mei is nakend en bebloed op die bed in die slaapkamer aangetref nadat gemeenskapslede die huis se deur oopgetrap het om in die huis te kom.

Ashley het getuig dat haar broer die huis se sleutels by hom in die kamer gehou het en sy nie kon uitkom om hulp te gaan soek nie.

“By ons in die straat is dit elkeen vir homself en God vir ons almal,” het sy getuig.

Sy kon ook glo nie by ’n venster uitklim nie en kon nie verduidelik waarom sy nie saam met Jullies uit die huis gegaan het wanneer hy gaan werk het nie.

Jullies het getuig dat hy nie by familiesake betrokke wou raak nie.

Op ’n vraag van die landdros waarom hy nie op pad na sy werk by die polisiekantoor aangegaan het nie, was sy antwoord dat hy bang was hy kom laat by sy werk. Hy het ook nie gedink dat dit so ernstig was nie, het hy getuig.

Volgens hom sou hy sy sleutel vir Ashley gegee het indien sy daarvoor gevra het, maar het sy nie.

Volgens Ashley het haar broer en Natasha die Vrydagaand voor haar huis gesit. maar het sy hulle weggejaag omdat sy hulle nie by haar huis gesoek het nie. Hulle het egter die Saterdagaand terug­gekom en omdat albei dronk was, het sy hulle toegelaat om te gaan slaap “totdat hulle nugter is”.

Enver het egter die huis en die slaapkamer waarin hulle gaan lê het, toegesluit.

Ashley het die nag gehoor dat Natasha om hulp roep, maar kon nie by hulle uitkom nie. Sy het ont­ken dat sy ook vir Natasha geslaan het.

“Die hele Oudtshoorn ken my. Ek sal nie so iets doen nie. Ek dien die Here,” het sy getuig.

Ashley en Jullies is saam met Enver in hegtenis geneem maar weer later vrygelaat.

Volgens Natasha se moeder, Fytjie Mei, het Natasha reeds talle operasies ondergaan en is sy nou in ’n rolstoel.

Sy kan met hulle gesels, maar onthou glad nie wat met haar in die slaapkamer gebeur het nie.

Die saak is vir verdere getuienis, van ’n dokter en die ondersoekbeampte, tot 30 Julie uitgestel.

Log in with your credentials

Forgot your details?