Streng waterbeperkings op Prins Albert na storm

Deur Marlene Malan
STRENG reëls en beperkings oor waterverbruik geld steeds op Prins Albert ná die storm, wolkbreuk en flitsvloed voorverlede naweek.

Vier van die munisipaliteit se nege boorgate is steeds buite werking, “wat beteken dat water tot die uiterste bepaar moet word,” het Anneleen Vorster, munisipale woordvoerder en bestuurder: korporatief en gemeenskapsdienste, gister aan Die Hoorn gesê. Daarbenewens is die watergehalte nog nie op standaard nie, en inwoners word gevra om steeds water te kook voor huishoudelike gebruik. “Die owerheid handhaaf die waternoodsituasie. Water móét voor gebruik gekook word, maar ’n mens kan nog verder gaan en dit deur ’n doek sypel nadat dit gekook is.”

Volgens haar mag inwoners ook nog nie hul tuine natlei nie. “Die ower­heid sal die gemeenskap op die hoogte hou wanneer hierdie beperkings gelig word,” het sy gesê. “Die munisipaliteit spoel die dorp se waternetwerk – met ander woorde die damme en pype – twee keer per dag; een maal soggens en een maal saans – weens die vuiligheid wat in die netwerk gekom het tydens die storm en vloedskade.”

Luidens ’n verklaring van die munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, het die massiewe reënneerslag, donderweer en blitse in die Prins Albert-gebied op Saterdagaand 8 April die hart van die dorpsgebied getref. Die donderweer en blitse is op die dorp se netwerk teruggelei tot in die Eskom-netwerk. Die Eskom-toevoer is dus deur die donderweer uitgeslaan en het grootskaalse kragonderbrekings en skade veroorsaak, veral die kragnetwerk van Prins Albert-Suid.

“Die nagenoeg 30 tot 60 mm reën wat die volgende aand (Sondag 9 April) binne ’n baie kort rukkie geval het, met ’n wolkbreuk en flitsvloed oor die Swartbergpas, het daarna groot skade aan die watersuiwerings­aanleg in Prins Albert aangerig. Die verskaffing van elektrisiteit na alle boorgate is uitgewis.”

Aanvanklik is vyf van die nege boorgate en die inlaat van die waterkanaal afgesny, en die toegang tot die boorgate is vernietig omdat die Swartbergpas tot by Tweede Water beskadig is.” Een boorgat is heeltemal vernietig, en twee boorgate in die Swartbergpas, waaronder die hoofboorgat, kan weens die skade aan die pas nie bereik word nie. Daar word beoog om dit binne die volgende twee weke te herstel.
Die munisipaliteit het onmiddellik wanbetalers se elektrisiteitstoevoer tydelik herstel sodat hulle hul water kan kook voor gebruik, en die plaaslike hospitaal en kliniek is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas om ’n diarree-uitbraak te moniteer en te voorkom. Volgens Mettler het ’n voorlopige ondersoek deur ingenieurs aan die munisipale reservoir getoon die belyning binne die dam is nie beskadig nie. Die munisipaliteit en Kweekvallei-waterraad hou ook die turbiditeit – of melkerigheid weens partikels in die water – dop.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?