Sonde met die bure draai in hof

Antoine du Preez

Antoine du Preez

Deur Schalk le Roux
’N INWONER van Oudtshoorn, Frederick Blacquire van Hoopstraat 47A, is op Maandag, 13 Maart, in die Oudtshoorn Landdroshof op aanklag van aanranding op een van sy buurmanne skuldig bevind.
Sy skuldigbevinding spruit uit ’n voorval in September 2015 in Hoopstraat waarin hy vir Antoine du Preez van Hoopstraat 49 ’n vuishou op die kakebeen gegee het.

Volgens Du Preez moes twee van sy tande verwyder word aangesien die betrokke tande in sy linkeronderkaak weens die hou gekraak het.

Landdros Roelf Konstabel het Blacquire gevonnis tot ’n boete van R2000 of drie maande gevangenisstraf, in die geheel opgeskort vir drie jaar, op voorwaarde dat hy nie weer skuldig bevind word op aanklag van aanranding gepleeg gedurende die tyd­perk van opskorting nie.

Blacquire, wat sekuriteitswerk in die Midde-Ooste doen, het kort ná die voorval op sy beurt ’n klag van aanranding teen Du Preez by die polisie ingedien. Dié klag spruit uit dieselfde voorval. Die saak het al voorgekom, maar is tot 23 Junie uitge­stel.

Intussen het Blacquire ná sy skuldigbevinding aansoek gedoen vir verlof tot appèl. Dit is op 16 Maart toegestaan. Hy het in sy getuienis ont­ken dat hy Du Preez aangerand het.

Tydens die hofsaak het Du Preez, superintendent: rioolnetwerke by die Oudtshoorn Munisipaliteit, getuig hy was die betrokke oggend vroeg besig om vullissakke te laai op ’n bakkie wat oorkant sy huis in die straat gestaan het toe Blacquire hom geslaan het.

Om homself te verdedig het hy Blacquire gegryp en vasgehou. In die gestoei het sy rug ook seergekry, het hy getuig.

Volgens Du Preez het hy om hulp geroep. Sy vrou en dogter het uit die huis gekom en hulle uitmekaar gemaak, waarna Blacquire by sy huis se erf in is.

Du Preez sê hy het nie dadelik die omvang van die skade aan sy tande agtergekom nie.
Toe sy tande egter later begin pyn, het hy ’n tandarts besoek wat vasgestel het dat twee tande in sy onderkaak sodanig gekraak was dat hulle verwyder moes word.

Du Preez het ná die hofsaak gesê hy het ’n afspraak met ’n prokureur om advies in te win oor ’n eis vir skadevergoeding. Volgens hom het hy ’n kwotasie van digby R40000 ontvang om sy twee uit tande met implantate te vervang.

Landdros Roelf Konstabel was op die bank. Me Vandana Premchand het aangekla en Rolene van Rooyen van Johan Wagener Ing het vir Blacquire verskyn.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?