Soldaat wat in see verdrink afgelope Saterdag ter ruste gelê

Kollegas van Glenton du Plessis dra sy laaste oorskot uit die kerk. Foto: Garnett Wicomb

Kollegas van Glenton du Plessis dra sy laaste oorskot uit die kerk. Foto: Garnett Wicomb

‘n Jong soldaat van Oudtshoorn wat in die see by Port Alfred verdrink het, is Saterdag met volle millitêre eerbewys op sy tuisdorp begrawe.

Die 27-jarige Glenton Aiden Wayde du Plessis wat verbonde was aan 6 SA Infanterie Bataljon in Grahamstad het op 16 Desember verlede jaar saam met kollegas in Port Alfred gaan swem toe hy in die moeilikheid beland en verdrink het. Sy liggaam het eers op 3 Januarie vanjaar uitgespoel.

“My kind het sy crown birthday in die see gevier,” het sy ouma, Lilly du Plessis, Saterdag tydens sy begrafnisdiens in die Christen Herlewingsentrum gesê. “Ek het vir die Here gesê dat dit Hy was wat die see gemaak het en gevra om my kind vir my terug te gee. Hy was vir agtien dae in die water voordat hy uitgespoel het.”

Volgens Du Plessis was Glenton ‘n lieflike kind wat nooit teegepraat en ook nooit kwaad geword het nie.

Maj NJ Baloyi, waarnemende bevelvoerder van 6 SA Infanterie Bataljon in Grahamstad, het Du Plessis in sy huldeblyk as ‘n toegewyde en baie behulpsame soldaat beskryf en gesê dat hy beslis deur sy kollegas gemis sal word.

“Een van Glenton se uitstaande eienskappe was dat hy altyd bereid was om te help. Sy vinnige glimlag, vriendelikheid en vrolikheid was aansteeklik. Dit is hartseer om so ‘n jong lewe te verloor en die SANW is diep bedroef, platgeslaan en geruk deur sy onverwagse dood.

“Ons salueer hom vir sy bydrae van diens aan ons geliefde land en sy mense. Ons sal hom onthou as ‘n soldaat wat waarde toegevoeg het tot sy werk.”

Volgens Glenton se pa, Elroy Kortje, kan hy nou nog nie glo sy geliefde seun is dood nie. “Ek slaap steeds baie sleg oor my kind.”. (Berig deur Garnett Wicomb)

 

Log in with your credentials

Forgot your details?