Skoonmakers vind baba se lyk in stegie

Die Oudtshoorn Polisie het met ’n geregtelike nadood­se ondersoek begin nadat skoonmakers van die Oudtshoorn Munisipaliteit Saterdag op ’n babaly­kie in die middedorp afgekom het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Polisie op Oudtshoorn, is die babalykie omstreeks 18:00 deur die werkers gevind terwyl hulle vullis verwyder het. Die lykie is in ’n stegie agter Ackermans gevind.

“Die lykie was reeds in ’n baie gevorderde stadium van ontbinding. Ons kon nog nie die geslag of ou­derdom bepaal nie, en ook nie hoe lank die lykie daar gelê het nie.

“Die oorsaak van dood kon ook nog nie bepaal word nie,” het Visser gesê.

Hendrik Samson, die werker wat op die lykie afgekom het, vertel hy het in ’n hoek agter Ackermans sakke gesien lê en gaan ondersoek instel.

“Dit het klaar nie baie lekker geruik daar nie. Ek het die een sak met my voet weggeskuif en die ander een half oopgetrek.

“Dit is toe dat ek iets sien wat soos ’n klein handjie lyk,” vertel hy.

Samson sê hy het ’n stuk karton opgetel en die sak verder daarmee oopgetrek. “Ek het toe duidelik gesien dis ’n baba se hand,” sê hy.

Hy het daarna sy kollega, Koos Booysen, nader geroep om te kom kyk.

“Ek het afgebuk en die sak heeltemal oopgetrek met my hande. Daar was ’n baba in die sak. Ons het toe die Polisie ontbied,” het Booysen gesê.

Volgens hom is dit nie die eerste keer dat hulle op so ’n grusame toneel afkom nie.

“Ons het ’n ruk gelede ook op ’n babalyk op Dysselsdorp afgekom,” het hy gesê.

 

(Deur Stefan Skapie Goosen)

Log in with your credentials

Forgot your details?