Skokgranate klap op dorp

Lede van die die polisie se onluste-eenheid praat Maandag met ontevrede inwoners wat die Oudtshoorn-De Rustpad by Rosevalley met klippe en brandende bande versper het. Skokgranate het kort daarna ’n derde keer sedert Saterdag op Oudtshoorn geklap nadat die Oudtshoorn Polisie oor die naweek ook twee keer skokganate moes gooi nadat hulle deur inwoners met klippe bestook is.                                                                         Foto: Liesel le Roux

Lede van die die polisie se onluste-eenheid praat Maandag met ontevrede inwoners wat die Oudtshoorn-De Rustpad by Rosevalley met klippe en brandende bande versper het. Skokgranate het kort daarna ’n derde keer sedert Saterdag op Oudtshoorn geklap nadat die Oudtshoorn Polisie oor die naweek ook twee keer skokganate moes gooi nadat hulle deur inwoners met klippe bestook is. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DRIE onrussituasies op Oudtshoorn die afgelope week het gelei tot onderonsies tussen die polisie en inwo­ners – met die polisie wat twee keer met klippe bestook is en skokgranate en rubberkoeëls wat deur die polisie afgevuur is om oproeriges uiteen te jaag.

In ’n voorval Maandag het inwo­ners die pad na De Rust net langs die woonbuurt Rosevalley met klip­pe en brandende binnebande versper totdat hulle kort na 12:00 deur die polisie se onluste-eenheid uiteengejaag is.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die onrus ontstaan nadat die ­po­lisie saam met personeel van die departement immigrasie, die ­departement arbeid, munisipale wets­toepassers en die SAID huiswinkels en ander persele besoek het om toe te slaan op onwettige immigrante.

By die bouperseel in Rosevalley waar Asla tans huise vir die munisipaliteit bou, het ’n aantal onwettige immigrante weggehardloop.

Vier mense wat nie oor die nodige dokumente beskik het nie, is wel in hegtenis geneem terwyl twee ander ge­waar­sku is.

“Dit wil voorkom of die oproer hierna by die De Rustpad gegaan het oor die immigrante wat in hegtenis geneem is en bouwerk aan die huise wat nou stilstaan,” het Visser gesê.
’n Verdere vyf mense is in hegtenis geneem vir openbare geweld. Vier van hulle is jeugdiges.
• Die polisie het Saterdagaand twee skokgranate gegooi om inwo­ners uiteen te jaag wat hulle met klippe bestook het tydens ’n poli­sieoptrede by ’n woning in Janua­riestraat.

Visser sê drank word by die huis verkoop. ’n Poli­sie­voertuig is tydens die klipgooiery beskadig.
Die polisie is Sondagoggend ook onder klippe gesteek toe hulle ’n man in 13de Laan vir die besit van dagga en mandrax in hegtenis geneem het.

“In ’n oogwink het daar ’n groep van meer as 300 mense gevorm en klippe na die polisie begin gooi en selfs met grawe, pikstele en pangas op ons afgestorm,” sê Visser.

Die polisie het hier ook skokgranate gegooi en rubberkoeëls afgevuur om hulle in staat te stel om die toneel veilig te verlaat. ’n Polisiebeampte is egter in die voorval beseer en twee polisievoertuie beskadig. Die polisie ondersoek sake van openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging en aanranding.

Die man wat hulle in hegtenis geneem het, is steeds in aanhouding en aangekla vir die besit van dwelms.
Oudtshoorn se stasiebevelvoerder, brig Levona Januarie, het haar teleurstelling uitgespreek oor die voorvalle. “Die publiek kla by ons oor die onwettige smokkelhuise en misbruik van dwelms op straat, maar sodra ons optree, word dit met teenstand begroet en word ons lede aangeval. Ons gaan beslis nie ophou met die optredes nie en nie toelaat dat die gemeenskap ons intimideer om nie ons werk te doen nie.”

Hoewel niemand nog in verband met die geweld teen die polisie in hegtenis geneem is nie, het die polisie gewaarsku dat ingehtenisnames sal volg sodra die ondersoeke na die voorvalle afgehandel is.

’n Ongewone ge­sig op Oudts­hoorn. Lede van die polisie se onluste-eenheid arriveer Maandag op die De Rustpad (links) waar betogers die pad met klippe en brandende binne­bande versper het (regs) en geweier het om uiteen te gaan.

’n Ongewone ge­sig op Oudts­hoorn. Lede van die polisie se onluste-eenheid arriveer Maandag op die De Rustpad (foto bo) waar betogers die pad met klippe en brandende binne­bande versper het (foto onder) en geweier het om uiteen te gaan.

1 Skote

Log in with your credentials

Forgot your details?