Saak teen weermagoffisiere: Hof hoor van opdrag ‘om die plek te vernietig’

Kol Nthejane (middel) Maandag buite die Oudtshoorn Landdroshof saam met ANC-raadslid Maggy Titus en adv Mervyn Doralingo. Foto: Garnett Wicomb

Kol Nthejane (middel) Maandag buite die Oudtshoorn Landdroshof saam met ANC-raadslid Maggy Titus en adv Mervyn Doralingo. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van die twee weermag­offisiere wat tereg staan op klagtes van intimidasie en dat hulle die po­lisie in die uitvoering van hul pligte verhinder het, is Vrydagoggend onverwags in die Oudtshoorn Streekhof tot Juniemaand uitgestel.

Streeklanddros Mark van Wyngaardt het die saak teen kol Nkabu Nthejane, bevelvoerder van die Infanterieskool, en kol Xolanie Man­kayi, ’n voormalige bevelvoerder van die skool, vir vyf dae se verhoor vanaf 19 tot 23 Junie uitgestel omdat hy nie te wel gevoel het nie.

Die beweerde optrede van die offi­siere het op 17 Mei 2014 plaasgevind toe hulle na bewering soldate in pantservoertuie na die Oudtshoorn Polisiekantoor laat opruk het en ge­dreig het om die kantoor op te blaas.

Lt kol Ollie “Baard” Olivier van die SAPD het Donderdag onder kruisverhoor getuig dat ’n besluit om die betrokke dag 35 soldate wat by ’n onwettige kuierplek in Bongolethu in hegtenis geneem is, vry te laat, “in belang van die breë gemeenskap van Oudts­hoorn” gedoen is.

“Ons het almal geïntimideerd ge­voel oor die twee beskuldigdes se optrede,” het Olivier getuig.
Volgens hom het hy en kapt Frans van Rooyen van die polisie se openbare orde-eenheid (POPS) met Nthejane ooreengekom om die soldate vry te laat.

“Ek glo dat die besluit voorkom het dat soldate met gepantserde voertuie opruk na die polisiekantoor.”

Nthejane se houding het volgens Olivier met die aankoms van Man­kayi heeltemal verander en hy het in opdrag van Mankayi die Infanterie­skool gebel om twee peletons soldate in gepantserde voertuie na die po­li­siekantoor te stuur “om die plek te vernietig”.

Olivier het erken dat Mankayi met senior poliseoffisiere oor die aangeleentheid wou praat.

Volgens die twee beskuldigdes se regsverteenwoordiger, adv Mervyn Doralingo, is die polisie nooit ge­dreig nie, en is daar ook nie soldate in pantservoertuie ontbied nie.

“Die beskuldigdes sal kom getuig dat daar wel ’n oproep na die Infanterieskool gemaak is, maar dat dit was “om reelings te tref vir die beveiliging van die weermagbasis”.

Adv Michelle Weyers verskyn vir die staat.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?