Saak teen sakeman tot Junie uitgestel

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n sakeman van Oudtshoorn wat teregstaan op verskeie aanklagte van verkragting is in die Oudtshoorn Streekhof vir die uitslag van vertoë tot 26 Junie uitgestel na ’n versoek van die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers.

Weyers het die hof meegedeel stukke wat die verdediging verskaf het, is by die kubermisdaad-eenheid en dat sy die uitslag daarvan met die klaagster wil bespreek. Weens werkdruk kon sy dit egter nog nie doen nie.

Die verdediging het volgens die verdagte se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, tydens voorbereiding vir die verhoor agtergekom dat die klaagster ongemagtigde toegang tot hul kliënt, sy werkgewer en moontlik gepriviligeerde kommunikasies tussen prokureur en kliënt verkry het om sodoende haar weergawe te kan aanpas.

Die versoek van die staat om uitstel is nie deur die verdediging teengestaan nie.

Volgens Van der Bergh vertrek die beskuldigde voor die volgende hofverskyning vir twee weke na China en is versoek dat sy paspoort vir dié doel aan hom terugbesorg word.

’n 32-jarige vrou beweer dat sy tussen November 2014 en April 2016 na bewering vier keer, by twee geleenthede in die verdagte se huis, een keer by die vliegveld en een keer in sy kantoor verkrag is.

Die verdagte is nog nie gevra om te pleit nie en sy borgtog van R10 000 wat in September 2017 aan hom toegestaan is, is deur streeklanddros Daniel Boks verleng.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?