Saak teen hoteleienaar van hofrol verwyder

Oudtshoorn Landdroshof.

Oudtshoorn Landdroshof.

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ‘n hoteleienaar van Oudtshoorn wat van diefstal en die afvuur van ‘n vuurwapen binne die munisipale gebied aangekla was, is Donderdag van die hofrol verwyder omdat geen vordering met die ondersoek gemaak word nie.

Pierre Fourie (69), eienaar van Baron’s Palace, het na bewering ‘n hotelgas se motorsleutels afgevat en ‘n skoot afgevuur toe die gas op Vrydag 10 Maart sy huis saam met die polisie besoek het om die sleutels terug te kry.

Fourie het glo geweier en hulle gevra om sy perseel te verlaat. Terwyl hulle dit gedoen het is ‘n skoot gehoor.

Fourie is die volgende dag in hegtenis geneem en sy vuurwapen gekonfiskeer.

Hy het op Maandag 13 Maart vir die eerste keer in die hof verskyn en is op versoek van die staat deur landdros Lorraine Samuels op waarskuwing vrygelaat.

Samuels het Donderdag gelas dat die saak van die hofrol geskrap word omdat die ondersoekbeampte weer afwesig was en sedert Fourie se eerste verskyning geen vordering met die ondersoek gemaak word nie.

‘n Ballistiese verslag is ook nog nie ontvang nie.

Me Vandena Premchand het vir die staat en Gideon Badenhorst vir Fourie verskyn.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?