Rook, reën, koue, kragonderbrekings

Oudtshoorn was Sondag in rook gehul as gevolg van die veldbrande in die omgewing van veral Waboomskraal, aan die noordelike kant van die Outeniquaberge. Foto: Liesel le Roux

WIND, vlamme, rook, reën en ysige koue.
Dit was van die uitdagende natuursomstan­dighede waarmee inwoners in die Suid-Kaap die afgelope week te doen gehad het.

Nadat die hele Groter Oudtshoorn en Calitzdorp Sondag toe­gevou was in ’n rookkombers weens die brande aan die noordekant van die Outeniquaberge, het dik rook ook die substasie tussen Blanco en Oudtshoorn die oggend laat uitskop. Kragtoevoer is eers laatmiddag herstel.

Maandagaand was dit weer sulke tyd met die Groter Oudtshoorn en Calitzdorp se krag wat kort voor 18:00 uitgeskop het. Dié keer moes Eskom-personeel deurnag in koue toestande werk om ’n fout op die kraglyn tussen Outeniqua en Dysselsdorp te herstel.

Dit het intussen aan die lig gekom dat die gebied wat onder die Suid-Kaapse brande deurgeloop het, sowat vier keer groter was as met die Knysna-brande van 2017. Ses brande met ’n brandlyn van meer as 250 km moes in ’n stadium deur brandbestryders beheer word.

Die beste nuus was die ligte reën wat Maandagnag en Dinsdag uitgesak het. Tussen 4mm en 7mm is in die Oudtshoorn-gebied gemeet. By die Nelsdam by Calitzdorp het egter net 1mm geval.

Log in with your credentials

Forgot your details?