Rioolwater in die Grobbelaarsrivier

Ondersoek lei omgewingsgesondheidspraktisyns na rioolverstoppings in die omgewing van die Infanterieskool

Regs:  Besoedelde water vandeesweek by die  stormwaterpyp by die Kerkstraat-hangbrug.  Foto: Schalk le Roux

Bo: Besoedelde water vandeesweek by die stormwaterpyp by die Kerkstraat-hangbrug. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE ondraaglike stank by die Kerkstraat-hangbrug op Oudtshoorn word veroorsaak deur rioolwater wat as gevolg van onder meer rioolverstoppings in die omgewing van die Infanterieskool via ’n storm­waterpyp in die Grobbelaarsrivier loop.

Dié bevestiging is vandeesweek deur die Eden Distriksmunisipaliteit op ’n navraag van Die Hoorn gegee.

Inwoners kla al maande lank oor ’n afstootlike reuk wat by tye oor die hangbrug-omgewing hang. Met besoeke van Die Hoorn aan die gebied Maan­dag en Dinsdag was die besoedelde toestand van die water en die reuk in die omgewing van ’n nasionale erfenisgebied en talle gastehuise erg.

Verteenwoordigers van die Eden Distriksmunisipaliteit se Omgewingsgesondheidafdeling, die SANW en Oudtshoorn Munisipaliteit het Maandag vergader nadat daar weer rioolwater in die rivier geloop het.

Herman Pieters, senior kommunikasiebeampte van die Eden Distriksmunisipaliteit, sê ’n ondersoek deur die distriksmunisipaliteit se Omge­wings­­gesondheidsafdeling het hul omgewings­- gesondheidspraktisyns gelei na rioolverstoppings in die omgewing van die Infanterieskool.

Hy verduidelik dat die SANW-gebied deur ’n stormwaterstelsel gedreineer word. Verstoppings veroorsaak deur riool, waswater en afvoerstelsels het tot gevolg dat die rioolstelsels oorloop en vuil water in die stormwaterstelsel en so in die Grobbelaarsrivier in Kerkstraat beland.

Volgens Pieters is die Infanterieskool en die assistent-direkteur van omgewingsgesondheid (Area Militêre Gesondheidseenheid, Wes-Kaap) bewus van die probleem en word pogings aangewend om die probleem aan te spreek deur afvoerslote skoon te hou en te onderhou, pype oop te maak en te herstel, terwyl water van ’n wassery wat foutiewelik ook na die stormwaterstelsel herlei is, intussen reggestel is.

“Ou en afgeleefde rioolstelsels en dreine veroorsaak egter dat daar gereeld nuwe probleme opduik en daarom gebeur dit steeds dat onbeheerde rioolverstoppings voorkom en dan via die stormwaterstelsel in die rivier beland.”

Pieters sê dit is noodsaaklik dat dreinverstoppings vroegtydig aangemeld moet word sodat voorkom kan word dat die uitvloeisel in die stormwaterstelsel en Grobbelaarsrivier beland.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het teen druktyd nie gereageer op navrae van Die Hoorn oor die aangeleentheid nie.

• Dit is nie die eerste keer dat rioolwater vanaf die SANW in die Grobbelaarsrivier beland nie. Die Hoorn het in 2014 ook berig dat die Eden Distriksmunisipaliteit gevind het dat riool vanaf die SANW in die Grobbelaarsrivier beland het en dat die SANW daaraan aandag skenk.

Log in with your credentials

Forgot your details?