Reuse-gat in sypaadjie

Links: Die trok se wiele sit vas in die gat. Foto verskaf. Regs: Die reuse-gat met ’n deursnee van sowat een meter in ’n sypaadjie van Swartsingel in Oudts­hoorn. Die gat is gister herstel. Foto: Ilze-Mari Gründling

Links: Die trok se wiele sit vas in die gat. Foto verskaf. Regs: Die reuse-gat met ’n deursnee van sowat een meter in ’n sypaadjie van Swartsingel in Oudts­hoorn. Die gat is gister herstel. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
INWONERS van Swartsingel in Oudtshoorn het Dinsdagmiddag omstreeks 4:15 groot geskrik toe ’n sypaadjie onder ’n klein trok meegegee het.

“Ek was besig om bousand af te laai toe die teer onder die agterste wiele skielik inmekaarsak,” vertel Jacques Theart van Christo Theart Sement­werke. Op die oog af het dit nie gelyk asof die trok beskadig is nie, Theart vertel dat daar wel redelik skade is.

“Die een hidroliese arm het gebuig toe ons dit uiteindelik reg kry om die trok uit die gat uit te kry. Die tweede silinder het ook geskuif.” Volgens Theart het meer as net dit skade gely.

Die groot gat, sowat een meter in deursnee, het ’n stormwatersloot blootgelê wat onder die teer loop.
“Die sloot is lankal geseël; so daar kan nie meer water deurgaan nie. Vog kon nie veroorsaak het dat die teer breek nie,” sê Frikkie van Staden van die munisipaliteit se stormwaterafdeling.

Volgens Theart is die teer baie dun en nie sterk genoeg nie.
’n Inwoner van Swartsingel 3, Hennie Marais, is briesend oor die munisipale diens in hul buurt.
“Die strate bly vuil en nou sak die teer inmekaar. Die sement in my oprit is ook besig om stadig maar seker op te breek. Daardie sloot loop onder my grond. Met die gat het ons nou gesien hoe dun die laag is. Daar is vir ons gesê om net nie op dit te ry of te parkeer nie. Waar moet ons karre dan staan?”

Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudts­hoorn Munisipaliteit, sê daar loop ’n stormwater­kanaal vanaf Van der Berg Vervoer se perseel in Jonesstraat, deur Langenhovenweg en erwe in Swartwingelweg en word dan ’n oop sloot langs Smitswinkel tot in die Grobbelaarsrivier.

“Die eerste probleme is gedurende 2015 ondervind toe die kanaal se blad in die inrit na Swartsingelweg 10 geswig het. Dit is saam met sowat 80% van die kanaal se blad wat deur dié erf loop herstel, met die oorblywende 20% wat in Mei 2017 herstel sal word.”

Volgens Oliphant sal die erf by Swartsingel 3 gedurende die volgende boekjaar herstel word.
“Indien daar befondsing beskikbaar is om die hele kanaal se blad te vervang, wat wenslik is, sal dit in die orde van R300 000 beloop.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?