Proses begin om historiese hangbrug op Oudtshoorn te herstel

Deur Liesel le Roux
DIE herstel van die hangbrug oor die Grobbelaarsrivier in Kerkstraat, Oudtshoorn geniet tans die aandag van die senior bestuur van die munisipaliteit, sê Aurelia Oliphant, munisipale woord­voerder.

Omdat die brug egter ’n verklaarde provinsiale erfenisgebied is, moet alle herstelwerk daaraan eers met Erfenis Wes-Kaap bespreek en deur hulle goedgekeur word. Dit kan die proses vertraag.

Die munisipaliteit het die hangbrug in September onbepaald gesluit nadat verskeie dwarsplanke op die brug se loopvlak gesteel is.

Oliphant sê die brug het heelwat onderhouds- en herstelwerk nodig. “Die omvang van die onderhouds- en herstelwerk asook die koste hiervan sal nog bepaal moet word.” Volgens Oliphant het ’n strukturele ingenieur reeds die brug geïnspekteer.

Hazel Jonker, van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) sê Erfenis Wes-Kaap is reeds ingelig dat herstelwerk aan die brug nodig is en moet nou leiding in dié verband gee.

• Die hangbrug wat in 1914 gebou is, is in 1964 tot nasionale ge­denk­waardigheid verklaar. Deesdae staan dié ge­denk­waardighede bekend as provinsiale erfenisgebiede.

Log in with your credentials

Forgot your details?